Monday, September 03, 2007

Die een wat nie weggekom het nie

Brighton. Iemand in die kantoor het gereel dat ons 'n boot huur en gaan visvang. Ek het nog nooit op die oopsee vis gevang nie, so toe gaan ek saam. Onder is 'n klomp van my kollegas in ons bootjie. Daar was seker so 30 mense op die boot wat nie vreeslik groot was nie.
Ons was daar om makriel te vang. Hulle is blykbaar maar 'n dom visse, en byt maklik. So mens vang hulle sonder aas - net 'n helder plastiek veertjie aan 'n hoekie. Ons visstokke het 4 hoeke aangehad, en ek het meer as een keer 3 op 'n slag uitgetrek. Mens het nie vreeslik baie plek nodig om vis te vang van die boot af nie. Ek dink 'n handlyn sou goed gewerk het, maar ons het sulke half-lengte visstokkie gehad. Jy smyt jou lyn oor oor die kant en laat hom rol tot op die bodem - dis so 40 meter diep. Dan 'n paar draaie op en dan pluk jy die lyn op en af. Na 'n rukkie voel jy 'n byt en dan katrol jy in. Die foto onder wys die kus van Brighton, met 'n stukkie van die Marina sigbaar links. Ons was nie ver van die kus/hawe af nie, maar ver genoeg dat ek nie sou wou terug swem nie. Die kus herinner aan Dover, met die witkalksteen sigbaar.
My vangs van die dag. Die bak naaste aan die kamera was my 'n pel van die werk s'n. Ek het ophou tel by 7, maar van die ouens het meer as 2 dosyn gevang.En die beste deel. Die braai! Ons het sommer die vissies op die klipperige strand skoongemaak (ek het self myne gedoen, ja) en net daar gebraai. Mens kry hom nie varsser nie.
Dit was dalk 'n snaaksigheid om te gaan visvang, maar daar is ook so bietjie goeie sin daarin. Dit het net £14 per persoon gekos om daai boot te huur. Mens kon verseker nie al daai vis gekoop het by 'n supermark vir dieselfde prys nie. En die braai op die strand was nie net lekker gesellig nie - ek daag jou uit om lekkerder vis in 'n restaurant te kry. Wat maak jy volgende naweek?

Monday, August 27, 2007

Skotland

Dis nou al 'n geruime tyd dat ek nie hier geskryf het nie, maar ek het 'n goeie verskoning. Die kat het my huiswerk ge-eet en kleintjies gekry op my keyboard en toe kon ek nie tik nie en stuff. Ser-i-ous.

As 'n laaste bietjie kuier en toer het Hermine, Christelle en ek Skotland toe gegaan vir 'n klompie dae. Ons het sommer die trein gegryp uit Londen uit. Die redenasie was dit dit netso duur is, en dat die minder pyn is as om deur 27 hekke te gaan en ondervra word oor jou keuse in ontbyt pap. Met al die gedraai van lughawens hier, sou die vier en half uur treinrit presies dieselfde tyd gevat het as 'n vliegtuig. Boeta, daai trein moooove!

Dag 1: Aankoms in Edinburgh. Ons het in Edinburgh begin op 'n Vrydag. Die foto onder is geneem in The Mile, wat meestal 'n toeriste straat tussen die Stadsaal en die kasteel is. Klomp goed om te sien en te koop, natuurlik. Baie ou geboue. Dit was lekker om so nou en dan vas te haak iewers en so bietjie geskiedenis of useless information te lees. Die weer was maar grys, maar teen laat middag het ons 'n stukkie blou lug gehad.

Bo aan The Mile is oa hierdie tartan-weef fabriek. Dis die plek waar hulle steeds die tradisionele skotse rokkies maak. Ook hordes ander goed uit wol. Die plek is nogal groot en kleurvol, soos die foto wys. Mens kan hier ook leer watter clan watter tartan-patroon dra. Oorkant die fabriek is 'n whisky plek, en die toer daar was verbasend goed. Nie gedink ek sal whisky kan sluk nie, maar op die ou end was ek beindruk, EN nugter. Sal oorweeg om weer eendag 'n sluk of twee te vat.
Dag 2: Edinburgh na Fort William. Saterdag het maar grys begin, en ons het die oggend nog 'n draai in Edinburgh geloop. Die middag het ek my wiele gaan haal. Die gawe mense het my 'n Golf 5 TDi geleen vir die volgende paar dae. Diesel is nie heeltemal my ding nie, maar bo so 3500 rpm maak hy mens bang, en ek moes gereeld keer of ek ry vinniger as die spoedgrens. Ons het uit Edinburgh gery na Stirling, waar die William Wallace (Braveheart is gebaseer op hom) monument staan. Die res van die dag het ons noordwes gery tot in die Highlands. Die Skotse platteland is groen en bergagtig hier. Mooi selfs met die wolke en ligte reen.

Dag 3: Inverness, Eilean Donan, Fort William. Na 'n goeie nagrus by 'n gawe tannie in 'n Bed & Breakfast, het ons vroeg Sondag die pad gevat Inverness toe. Die weer het weereens vaal begin, en dit het goed ingepas by ons eerste bestemming. Die slagveld by Culloden is waar daar 'n vreeslike bloedige geveg was tussen die Skotte en die Engelse. Die hele slagveld is vol gedenkstene waar die verskeie Clans geval het. Dis 'n groot oop stuk modderige vleiland, en ek kan net dink hoe gruwelik dit moes wees om hier te baklei.

Oppad terug van Inverness/Culloden het ons by Loch Ness gestop. Hermine en ek het tyd geneem om die Monster te sien, en toe het ons verder gery... Ek het meer van 'n toeriste trap verwag, maar was bly om te sien dat die plek goed bestuur word. Dis 'n onbeskryflike mooi meer, en ek is bly ek kon daardie sy daarvan ook sien.

Nog 'n hele klomp kilometers verder (dankie Golf!), het ons tot by Eilean Donan gevorder. Dis die kasteel wat in Highlander gewys word. Dit was al 5pm, nadat ons 8am vertrek het, maar die son sak mos laat hier in die somer. So die foto is geneem, ons het so paar minute rondgestaan en toe waai ons weer. Mens raak bietjie bederf met kastele hier. Daar is een om elke draai in Skotland.

Hermine reken mens moet 'n Hairy Coo (dis hoe die Skotte dit uitspreek) afneem as jy hier is. So Christelle het hierdie een vertel hoe ver ons al gery het daai dag, en die reaksie vasgelê.

Dag 4: Oban en Mull. Maandag oggend het ons weer vroeg in die pad geval oppad na Oban toe. Dis in weste van Skotland, in 'n deel waar daar dosyne eilande is. Daarom is dit ook so 'n mooi plek, selfs volgens Skotland se standaarde. Ons wou betyds wees vir die ferry oppad na Mull toe. Ek het Hermine en Christelle afgelaai sodat hulle kon kaartjies koop terwyl ek die kar gaan parkeer. Maar natuurlik in Oban weet hulle mense soek parkeerplek, so oral vra hulle geld, en piesang het geen kontant op hom nie. Lang storie kort, ek het op die ferry geklim met sekondes om te spaar. En onmiddelik was dit rustig. Die enorme ou ferry het uit die hawe gevaar en die uitsig hieronder vir ons gegee. Dit was 'n wonderlike sonnige dag, en die Skotse weer het opgemaak vir die bietjie grysheid van die agfelope paar dae.

The Isle of Mull, en Duart kasteel. Dis waar Hermine gewerk het in 2004, en sy was behoorlik opgewonde om dit uiteindelik vir my en Christelle te kon wys. Mull is een van die grootste eilande in Groot Brittanje, en het so 1800 inwoners. Die ferry stop by dorpie genaamd Craignure, en van daar het 'n vriendin ons kom optel oppad kasteel. Ons kon deur die kasteel stap en Hermine het 'n paar ou gesigte opgesoek. So het ons ook die minder-toerisagtige details gekry van die plek. Maar vir die rekord. Dis die clan huis van die clan MacLean, en hoof woon nog daar sekere dele van die jaar. Die familie geskiedenis is uitgestal, en ek het dit geniet om deur die plek te dwaal en te wonder hoe dit moes wees om daar groot te word.

Aan die anderkant van die eiland is Tobermory - die grootste dorp (700 mense). Dis so doodstil en rustig, ek kan myself sien daar aftree. Ons het 'n middagete geniet met die uitsig hieronder, en later so om die baai gestap en gekyk na die toeriste winkels terwyl ons die sonnetjie geniet het. Terug in Mull het ons die baie lang dag afgesluit met 'n stewige aandete, Skotse danse en doedelsak musiek. Ja, mens kan net soveel daarvan hanteer. Ek het uitgevind hoeveel.

Dag 5: Loch Lomond. Teen Dinsdag was ons al 3 al goed moeg, so ons het dit rustiger gevat. Die dag het begin met 'n cruise op Loch Lomond, en ek en Hermine moes ongelukkig die onderste foto laat neem. Jammer.

Later die middag het ons gaan eet by The Drovers Inn. Dis 'n pub wat al daar staan van 1705, en die plek word opsetlik so bietjie stowerig gelos binne vir atmosfeer. Dis 'n heerlike kuierplek, en my aandete van Skotse salm was 10/10. Ek wens ek kan nog kry! Na Drovers het ons koers gekies na ons blyplek, wat 'n youth hostel was wat meer soos 'n kasteel gelyk het. Het ou daar ontmoet wat refoor Engeland met sy fiets ry. Scott het al op daai stadium 8 dae lank getrap vanaf die suide van Engeland al die pad tot in Skotland, en was behoorlik moeg. Hy was dus 'n baie goeie kamermaat - die stil tipe.

Dag 6: Loch Lomond na Edinburgh. Die laaste dag het ons verby Glasgow gevat, om die foto hieronder te neem. Ek dink dis die eerste keer wat ek sonskyn sien in Glasgow. Ons was maar haastig oppad, want die middag moes ons alweer in Edinburgh wees om die trein huis toe te vang.

Skotland was net die medisyne vir oorwerkte siele. Ons het in 6 dae ongeveer 1000 km gery, baie gesien, en baie kans gehad om net so bietjie rustig in die natuurskoon stil te staan ook. As 'n Kapenaar het dit my hart goed gedoen om weer tussen berge te wees. Die baie water en eilande is weer 'n heel ander ervaring, en een wat ek nooit sal vergeet nie. Al was dit somer, was dit gewoonlik aan die koel kant. Ek sidder om te dink watse weer mens hier moet verdra in die somer. Daar lê geskiedenis om elke hoek en draai hier, en weereens, nes Engeland, is die geskiedenis soveel langer as Suid-Afrika s'n. As ek terug gaan, sal ek graag verder die eilande wil gaan verken, dalk omdat ek nie gewoond is om op ferries te klim nie - dis 'n lekker gevoel. Ek hou van die plat water en die versteekte baaie. Miskien self 'n seilbootjie vaar. Wie kom saam?

Monday, May 07, 2007

It was the best of times...

Ek het Hermine weggesleep van die boeke oor die langnaweek om vir haar Rochester te gaan wys. Daar was 'n Sweeps Festival (soos Chimney Sweeps) aan die gang, wat beteken dat klomp normale mense in kostuums aantrek en in die strate dans. Rochester is ook een van die plekke waar Charles Dickens gelewe het, en van sy boeke speel hier af. Dis hoekom mens om elke hoek en draai 'n pleknaam sien wat sinspeel op sy werk, soos die restaurant se naam hierbo.
Hierdie is een van die groepie mense wat so bietjie in die straat geskoffel het. Baie van die mense het klompe aan, en elke span het sy eie kleurskema. Dit het my nogal baie herinner aan die klopse in die Kaap, behalwe die mense is nie heeltemal so lewendig as die SA weergawe nie.
Hierdie karakter was die Town Rat Catcher. Hy was gaaf genoeg om 'n paar kinders te koop aan te bied, maar ongelukkig was my tjekboek in my ander broek se sak. Daar het ook 'n duif rustig in die restaurant ingestap, en die ou het hom met groot onvernuf uitgehelp, nadat die duif seker was hy wou in elkgeval nie meer daar uithang nie.
Rochester Cathedral. Hierdie indrukwekkend katedraal staan naby die Medway rivier, en in die middel van die dorp. Netsoos St Pauls in Londen het dit my hier weer opgeval dat ek in 'n gebou rond stan waarvan die geskiedenis ten minste 2 keer so lank is as die hele (wit) Suid-Afrika s'n.
Ek dink die binnehof van die katedraal was baie meer spesiaal. Dit was stil en rustig, met 'n mooi tuin en rose reg rondom. In die middel was 'n boom waarin kinders hulle Paasgebede opgehang het. Wens ek kon hier sondagskool gehad het.
Rochester Castle. Of Keep, soos ek seker is Warcraft fans sal herken as mens mooi oplet na die vorm van die ding. Wie sê mens leer niks van PC games nie? En, soos eg aan die tyd, was daar 'n 'n mallemeue, swaaie, spookasem en hotdogs.