Die een wat nie weggekom het nie
Brighton. Iemand in die kantoor het gereel dat ons 'n boot huur en gaan visvang. Ek het nog nooit op die oopsee vis gevang nie, so toe gaan ek saam. Onder is 'n klomp van my kollegas in ons bootjie. Daar was seker so 30 mense op die boot wat nie vreeslik groot was nie.Ons was daar om makriel te vang. Hulle is blykbaar maar 'n dom visse, en byt maklik. So mens vang hulle sonder aas - net 'n helder plastiek veertjie aan 'n hoekie. Ons visstokke het 4 hoeke aangehad, en ek het meer as een keer 3 op 'n slag uitgetrek. Mens het nie vreeslik baie plek nodig om vis te vang van die boot af nie. Ek dink 'n handlyn sou goed gewerk het, maar ons het sulke half-lengte visstokkie gehad. Jy smyt jou lyn oor oor die kant en laat hom rol tot op die bodem - dis so 40 meter diep. Dan 'n paar draaie op en dan pluk jy die lyn op en af. Na 'n rukkie voel jy 'n byt en dan katrol jy in. Die foto onder wys die kus van Brighton, met 'n stukkie van die Marina sigbaar links. Ons was nie ver van die kus/hawe af nie, maar ver genoeg dat ek nie sou wou terug swem nie. Die kus herinner aan Dover, met die witkalksteen sigbaar.
My vangs van die dag. Die bak naaste aan die kamera was my 'n pel van die werk s'n. Ek het ophou tel by 7, maar van die ouens het meer as 2 dosyn gevang.
En die beste deel. Die braai! Ons het sommer die vissies op die klipperige strand skoongemaak (ek het self myne gedoen, ja) en net daar gebraai. Mens kry hom nie varsser nie.
Dit was dalk 'n snaaksigheid om te gaan visvang, maar daar is ook so bietjie goeie sin daarin. Dit het net £14 per persoon gekos om daai boot te huur. Mens kon verseker nie al daai vis gekoop het by 'n supermark vir dieselfde prys nie. En die braai op die strand was nie net lekker gesellig nie - ek daag jou uit om lekkerder vis in 'n restaurant te kry. Wat maak jy volgende naweek?
No comments:
Post a Comment