Monday, May 29, 2006

Rivier Lewe

Hermine en ek het Sondag langs die rivier gaan stap. Dit was nog nie enigsins naby aan my definisie van somer nie, maar die weer was lekker vir stap, en ons kon selfs oorweeg om roomys te kry by Ben & Jerrys. Ingeval jy nie weet nie... As jy iets soos ´n McFlurry soek in die UK, moenie McDonalds toe gaan nie. Hulle goed smaak soos grond. Maar Oom Ben & Jerry weet wat hulle doen met roomys.

Vir ´n laat middagete het ons ´n draai by Subway gemaak en elkeen ´n lekker sub gekoop, verby St Pauls gestap rivier toe en ´n bankie gesoek. In die foto sit die Millenium Bridge met The Tate Modern in die agtergrond. Laasgenoemde is ´n ou kragstasie wat nou ´n 7 verdieping kunsgallery is. Ek was laas jaar daar en kan dit aanbeveel. Mens kan ook ´n goeie uitsig kry van die boonste vloer en restaurant.


Net langs The Tate is Shakespeare se Globe Theater. Ek was nog nie daar nie, maar wou hierdie weird foto deel. Die 5 hyskrane agter die teater het heel moontlik nie daar gestaan toe William sy wraak op engelse studente reg oor die wêreld geskryf het nie.





Tower Bridge (tydens uitstekende roomys). Dit bly darem ´n mooi baken en iets wat mens moet gaan sien.







Net regs van die boonste foto staan hierdie geboue. Dit het vir my gelyk of die geboue self ook die rivier uitsig kom geniet het.







Skemer vanaf Tower Bridge. Ek staan op die brug en kyk wes oor Londen. Iewers verder af in die rivier is The London Eye en Big Ben, maar waar ek nou staan is dit reeds prentjie mooi.






Dit het my opgeval dat wanneer ´n stad so teen ´n rivier ontwikkel, dit nie anders kan as om soos onkruid te groei nie. Stede ontstaan vir baie redes, maar as jy water naby het, kan dit nie anders as om te floreer nie. Ek was onlangs by The London Museum en was stomgeslaan oor die skaal van geboue wat reeds hier was tydens die Romeinse tydperk. Londen was toe al ´n groot stad. Die rivier het natuurlik toe selfs meer singemaak in terme van vervoer en handel. In Suid-Afrika het ons ´n kuslyn, maar die see is moeiliker om te gebruik omdat jy groter skepe nodig het om veilig te vaar. Maar hier op die rivier kon elke inwoner sy goedere op ´n eenvoudige longboat of barge gooi en dit beweeg.

Mens moet die rivier beleef om Londen te verstaan. Jy kan nie net iewers hoog op klouter en na die stad op ´n afstand kyk nie. Mens moet langs die rivier af stap. Jy sien soveel ou en nuwe goed wat rondom die rivier gebou is. Dit laat die stad leef.


Monday, May 22, 2006

...hou van tuinmaak, braai, etc

Hulle sê dat mens nooit ´n toespraak op ´n negatiewe noot moet begin nie, so ek is nie jammer dat ek so lanklaas hier geskryf het nie. Daar het sommer baie goeters die afgelope 2 weke gebeur, maar niks wat mens vreeslik baie fotos van kon neem nie. Maar ek het wel fotos geneem! (Hoe ken julle my?)

Soos ek nou hier sit, is dit alweer koud in London. Dis nat en winderig buite, en as jy nie 12 ure op ´n vliegtuig gesit het nie, sou jy kon dink dis Kaapstad in die winter. So die plek is nes Kaapstad in ´n ander sin: Die weer swaai so gereeld soos ´n politikus se opinie.

Ek was een Sondag by ´n pel om Grand Prix te gaan kyk, en oppad huis toe kom ons op hierdie smart seiljagte af. Hulle sou bleikbaar die volgende dag na die Middelandse See gevaar het. Ek het skielik gevoel of ek in die Waterfront staan.





Hermine en ek het gaan koeldrank drink een middag by die Brasserie in Hampton Court. Ons het op daardie stadium nie geweet dit sal ons laaste kuier daar wees nie, maar dit was ´n goeie een. Die son het so nou en dan deur die wolke geloer, dit was lekker warm en kinders het roei geoefen op die rivier. Later het ´n enkele swaan so verby ons tafel gevaar en sy stukkie brood kom eis. Swane in hierdie land bedel nie, hulle demand...


Hermine se beskeie hoeveelheid bagasie oppad huis toe vanaf Hampton Court. Sy het vir verskeie onsmaaklik redes vroeer by die werk klaar gemaak en ek het haar Donderdag gaan haal. Aan die plus kant het dit beteken dat ek haar die hele naweek hier gehad het, so ons almal in die huis (en ander pelle ook) kon lekker kuier en ontspan. Ongelukkig was die teddie beer ´n slagoffer van die trek. Ek hoop hy het ´n goeie huis gekry.


Saterdag was tuinmaak dag, met ´n braai beplan vir later. Natuurlik het die weer glad nie saam gespeel nie, maar ons klomp het steeds ingespring waar ons kon. Daar is nou steeds minder onkruid in die tuin, en sodra die son weer skyn sal ek die sonneblomme, cosmos en ander blomme gaan saai. Hopelik teen Julie sal ons tuin mooi lyk.



BRAAI, sal ons braai... Dit was koud en onplesierig, maar vir ´n Suid-Afrikaner in London is braaivleis soos suurstof. Jy kan nie sonder die goed klaarkom nie. So al het die reen later gepla, het ons die tjops op die kole gesit, aartappelslaai gemaak en broodjies gebraai. En gevreet soos weeskinders in ´n lekkergoedfabriek.

Die naweek was regtig lekker. Ek dink almal kon ´n slag weer ontspan en net kuier. Mense het mense nodig. As jy dalk wonder of jy moet... JA. Kom kuier gerus!






Thursday, May 04, 2006

Sonskyn in Siberia

Ek het nie vandag fotos om te deel nie. Dis ´n gewone weeksdag en ek sit op die net en werksoek. Ja, dis ´n gewone dag in Londen, behalwe vir een ding: Dis warm. Dis nie soortvan-nie-reën-warm nie, nie eens byna-lekker nie, dis warm.

´n Vinnige loer na by browser se taskbar verifieer dit. NOW: SUNNY, 23C... Ek was dorp toe om brood en melk te gaan koop. Huge mistake. Mens raak so gewoond om nie by die voordeur uit te gaan sonder ´n langbroek en toe skoene nie, maar vandag is dit kortbroek en sandale tyd.

Ek kan nie glo hoe vinnig die seisoen hier verander het nie. Twee maande gelede was enigiets bo 10C ´n heerlike dag en die son het voor 5pm onder gegaan. Nou sak dit goed na 7pm en daar is blomme en goggas oral. En ek like die plek meer en meer.

Dis nie Kaapstad nie. Dis hard nie Stellenbosch nie. Maar mens kan lewe hier, en dit kan mooi wees.

Groete uit ´n sonnige Londen!

PS: (Die temperatuur het pas opgegaan na 26C)