Sand tussen die tone... in die UK
En die son het selfs geskyn! Vanoggend was daar ´n skielike besluit om see te gaan soek. Ons lot klim toe in ´n vriendin se kar en kies koers na die naaste stuk see wat lekker klink. Of ten minste wat laasgenoemde vriendin ken en kan aanbeveel.Heng, ek is bly oor sulke dae. Hierdie is Margate, UK. En ek aanvaar dat Margate in SA dalk vernoem is na hierdie plek. Blou lug, sand (nie klipperige gruis nie, sand), rustige see - alles wat mens soek in ´n dag by die strand. En alles wat ek gedink het in SA gaan agterbly nadat ek op die vliegtuig geklim het.
Hier kyk ek in die rigting van die dorpie self. Dis maar tipies Brits, behalwe dat daar meer roomys winkels is, en mense loop kaalvoet rond - nes ons gedoen het.
Margate sit heel aan die ooste kant van Brittanje - so 60 myl van ons huis af. Dis taamlik naby aan Dover, die Engelse Kanaal en dus ook Frankryk. Dit sit ook verby die monding van die Teems, en ek het die gevoel gekry dat die water dalk nie so 100% skoon is nie. Nie veel erger as die Strand oor Desember nie.
Die jong laaities het heeltyd van hierdie muur afgespring. Ek aanvaar dis een van die goed wat die locals maar doen om hulself te vermaak. Nog ´n weird ding wat ek nie in SA sal verwag om te sien nie, is ´n windplaas diep in die see. Die fotos het dit maar vrot gewys, want dit was so ver in, maar op die horison het daar dosyne groot windturbines gestaan wat gebruik word om krag op te wek. Sal graag eendag by so plek wil uithang en sien hoe hulle dit onderhou doer in die see.
Om te sê dat ons die see geniet het is om Londen ´n dorpie te noem... Hermine, Christelle en Sanet het selfs gaan swem omdat dit steeds so vrek warm is hier. Die sand tussen mens se tone laat jou gou onthou waar jou wortels is. En dat ek 6 maande gelede op die strand was. Dit was lekker om weer ´n stukkie SA te onthou.