Thursday, September 28, 2006

Om die Oog

Ek het byna vergeet om darem ´n foto hier te kom plak... Ek en Hermine het laas Saterdag die London Eye gaan doen. Dit was regtig ´n mooi aand, en ons het dinge so uitgewerk dat ons presies tydens son-onder op die Oog is.

Oppad ondertoe het ek hierdie foto geneem van Big Ben, Westminster en die Teems. Die Oog toring so 130 meter bo Londen uit, en ek was bly dat ek gewag het om dit te doen. Ten minste kon ek nou al die bakens herken, en meestal weet hoe dit daar lyk. Ek kan dit ten sterkste aanbeveel aan enige toerus wat hom/haarself hier bevind. Gaan sien Londen eers van onder, en dan van bo: Jy gaan soveel meer sien :)


Tuesday, September 19, 2006

Bizaar soos by die huis

Laas naweek was kerkbazaar in Londen. Dit was ´n ongelooflike lekker en weird ervaring. Daar was 3000 Suid-Afrikaners van oral oor Engeland om te kom deel in braaivleis, boeresport, pannekoek en potjiekos. Ja, ons het lekker gevreet...

Die bazaar is gehou op ´n plaas so 30km buite Londen waar mens gou die rolling green hills te siene kry. Ons het sommer so ligte stappie om die plaas gevat om te sien hoe dit lyk, dit was lank, maar verskriklik mooi. En toe ons terugkom was dit net mooi tyd vir braaivleis.




Boeresport(s) Teen laat middag het spanne ingeskryf om aan alles van driebeenresies tot eiergooi deel te neem. Dit was vrek snaaks, veral as jy ´n toeskouer was, want die ouens het maar lekker nat en morsig van al die sports afgekom.





Hier mos mens ´n hap appel vat terwyl hulle stroop op jou gooi... Het seker nie nog beskrywing nodig nie?







Pannekoek tafel. Ek het sommer al vroegoggend gaan pannekoek soek, want dit verkoop gou uit. Ek het ook Hertzoggies opgespoor, en daar is darem nog 3 oor in die yskas. En droëwors ook. Dis nie dat ek nie lus is daarvoor nie, dis net dat ek nie ooit wil hê dit moet op raak nie!




Luddesdown is die naaste dorpie(kie), wat eintlik maar net bestaan uit hierdie kerk en ´n huis of twee om dit. Verder is die plaashuise versprei ver rondom dit. Maar dit lyk eg Engels, en het darem gesorg vir nog mooi fotos.





As mens so kuier en weer moet huis toe gaan besef jy hoe baie mens jou land mis, en hoe mens stadig vergeet van die lekker van jou mense om jou hê.


Sunday, September 03, 2006

Inn en Uit

Deesdae is kans vir uitkom so bietjie minder. As ´n man die pot aan die kook wil hou is dit ongelukkig die prys wat mens moet betaal. Maar ek kla nie. ´n Salaris gee mens ander vryhede, soos om nie te worry as jy skielik lus is vir uitgaan nie.

Ons het na kerk gegaan in die rigting van die Queen se uithangplek. Dis nou Buckingham Palace - of soos ek dit altyd sal onthou: Die lelike gebou wat die uitsig vanaf die park opvoeter. In St. James´s Park is daar ´n oulike eetplek genaamd Inn the Park. Ek het dit in die koue winter ontdek in Maart, en wou nog heeltyd weer soontoe gaan om vir Hermine te wys.


Dis regtig ´n lekker kuierplek. Dalk bietjie aan die toeriste kant, so nie doodstil nie, maar ons het lank sit en kuier, soos die fotos getuig.






Mens moet natuurlik eet ook. En na ´n ligte misverstand het ons toe 3 hoofgeregte bestel, maar die waitress was so nice dat ek nie die hart gehad het om die lekker kos terug te stuur nie. Toe eet ons sommer alles op! Vir ´n bar menu is die kos nie sleg nie, maar jy moet maar liefs ponde verdien voordat jy binne in die restaurant gaan eet. Ek dink in elkgeval dat die terras buite ´n baie beter uitsig het - hoekom sou mens dan binne gaan sit?

Dis nogal snaaks as ek daaroor dink. Ek en Hermine werk elke dag saam, maar ons kom nooit by gesels uit nie. Mens moet sulke goed fyn dophou, anders dryf jy so stadig weg en kom dit te laat agter. So ek moet seker vir die Queen dankie sê dat ons in haar tuin maak stap. Volgende keer sal ek vir haar ´n stukkie broodjie bere.

BTW, moet nooit opgewonde raak as daar iets op jou tafel beland wat lyk soos chutney nie. Die Britte het geen clue hoe om chutney te maak nie: Die kanse is goed dat dit so sticky sous is wat ruik soos ou voete. Miena vertel vir my dis ingelegde pickles, maar ek het my bedenkinge...