Wednesday, November 15, 2006

Soos Roomys

Die ding met Engeland is dat dit vrek goedkoop is om te reis, solank mens bietjie vooruit boek en mooi beplan. So beland ons toe in Glasgow hierdie naweek. Sommer net sommer.

Ons het vroeg Saterdag oggend op die vliegtuig geklim. Mens besef hoeveel lugverkeer hier is as jy heelpad parallel met 'n ander vliegtuig vlieg. Lyk my daar is net soveel aanvraag dat dit betaal om direk te kompeteer - vlug vir vlug. Ons vliegtuig kaartjies het 1 pennie gekos. Al wat bykom is die belasting, wat steeds minder uitgewerk het as 'n trein kaartjie.



Glasgow Prestwick lughawe het 'n moderne skotse tema. En soos die prentjie hier langsaan wys, is die weer lekker bevoeterd. Ons het geland in die reen. Teen die einde van die nodige Starbucks koffie het die son geskyn, en teen die tyd dat ons trein toe gestap het, het die wind al die bome het die grond uitgelig.




Na 'n rustige, maar langerige rit via trein en bus het ons hy ons hotel opgedaag. Dit was verder van sentraal Glasgow as wat ek gedink het, maar absoluut die moeite werd. Links is die uitsig uit ons kamer. Dit was 'n 3-ster hotel met swembad, jacuzzi en spa. Nie tyd gehad daarvoor nie, maar die restaurant se kos is ongelooflik!



Sondag was dit stad toe om die plek te gaan verken. Ons het vasgehaak in die moderne deel van die stad, waar die geboue baie futuristies lyk. Links is die Armidillo (konferensie plek), die IMAX en Science Centre. Hulle sit aan die wal van die Clyde rivier, wat so net onder die middestad verby loop. Ons het Open Season in 3D gaan kyk by die IMAX. Vrek snaaks.

Die Science Centre het 'n paar interessante sights, maar hierdie een het my amaze. Dis 'n optiese truuk wat dit laat lyk of jou lyf verdwyn.






'n Gebou op St George's square. Dit was dit koud om te onthou watse gebou dit was...







Oppad hotel toe het ons die busstop in die reen loop en soek. Maar hierdie plek het regtig lekker gelyk, toe eet ons eerder daar. La Tasca is 'n Spaanse restaurant en ons kelner se naam was Pedro - van Spanje. Dit was 'n lekker rustige gesels atmosfeer, en Pedro het ons gehelp om die lekkerste ete te kies van die menu af, terwyl ons sommer gesels het oor sy land, ons land en Engeland. Ek sal weer Glasgow toe gaan net vir hierdie plek.



My opinie van Glasgow is nes my opinie van roomys. Dis koud, maar lekker. Volgende keer sal ek die plek goed genoeg ken om meer te gaan sien. Maar vir nou was ek baie bly vir die blaaskans van die groot stad.






Wednesday, November 01, 2006

Blou Naweek

Nog 'n besige naweek agter die rug... Dis Sondagaand 8pm en ek is op 'n trein oppad Waterloo toe - terug huis toe na 'n rustige middag in die Country side.

Vrydag het die werk ons gevat vir die jaarlikse offsite. Dis wat almal in die kantoor sê as hulle praat van 'n kantoor party/dag-uit. Die res van Expedia het so 2 maande gelede Griekeland toe gegaan en die hele naweek daar gekuier op die maatskappy se rekening. Maar ons span moes bly omdat dit maand-einde was. Ook omdat oom Enron gemors aangejaag het is die wêreld van finansies nou in rep en roer en alles moet gecheck en double check word. So maand-einde vat nou ekstra lank.

Anyway. So ons het gaan go-karts ry by Kings Cross en later die aand mooi aangetrek en gaan uiteet naby Green Park. Dit was baie lekker, alhoewel so 40 min se go-karts maak 'n ou lekker seer :) Maar ry sal ons ry! Ek was darem 2de en het die trofee om dit te bewys. Die eetplek was baie deftig en op die spyskaart was daaf selfs 'n £800 bottel Champagne! Terwyl ek daar in my suit sit en eet en gesels met my baas se baas asof ons mekaar jare al ken het ek beide in en uit gevoel. Dis moeilik om te verduidelik, maar dit het lekker gevoel om deel te wees van 'n besigheid wat sulke nice goed kan doen vir die siele wat daar werk. Dit het ook nie 100% ek gevoel nie. Opdress is lekker, maar gee my 'n tafel vol nerds en 'n lekker steak dan kuier ek ewe lekker.

Saterdag het ons Christelle se verjaardag gevier. Ete naby Picadilli Circus tussen die nimmer-eindige gewoel van mense (toeriste?), en toe het ons die Blue Man Group gaan kyk. Dit was die heel beste show wat ek nog hier gesien het (het darem al 'n klompie gesien: Stomp was 'n close 2de). Ongelooflik snaaks, skerp en cheeky. Dis 'n absolute moet-sien.

Vanmiddag het ons bietjie uit die stad ontsnap en gaan kyk waar Cristelle woon en werk. Die middag was so rustig en die plek so mooi dat ek nou erg sit en verlang. Andover is nie 'n mooi dorp nie, maar die omgewing is 'n prentjie. Op 'n heuwel buite die plaas kyk jy af op die village van Stoke. Dis so klein en weggesteek jy kan maklik glo dat tyd daar stil staan - geen tubes, busse, highstreet fashion, McDonalds of ATMs daar nie. Wens ek kon daar bly. Miskien net vir 'n rukkie.