Sunday, January 14, 2007

PVA

Hier volg die Plan Van Aksie... In tipiese 'Allo 'Allo styl: "I vill zay zhis only vounce..."

Ek en Hermine kom kuier in SA vanaf die Saterdag, die 24ste Februarie tot die 9de Maart. Dit gaan maar 'n hit-n-run kuier wees, want ons moet baie inpas in die kort tydjie by die huis. Sover lyk die planne so:

  • Land Saterdag, 24 Feb en rus by Miena se ouers in Gauteng.
  • Braai Sondag, 25ste (Cobus & Lara)
  • Maandag tot Woensdag gaan ek en Hermine vakansie hou, die son geniet en almal ignoreer.
  • Donderdag, die 1ste Maart vlieg ons af Kaap toe. Ons land rondom middagete en steel 'n kar by die lughawe. Dan jaag ons see toe om weer 'n slag die sand tussen die tone te voel, ens. Die aand kuier ons by my Pa.
  • Vrydag oggend hang ons in Stellenbosch uit. Die middag kry ons vir Johan op die lughawe en die aand gaan ons heel moontlik 'n Koffie & Kuier aand iewers hou, heel moontlik by Mugg & Bean, Tygervallei.
  • Saterdag oggend is dit tee saam met van Hermine se familie. Saterdag middag is daar blykbaar 'n trou of 'n ding aan. Ek dink dis in Grabouw, of Ceres, of iets...
  • Sondag vat ons vir Johan lughawe toe en zip George toe.
  • Maandag hou ons vakansie.
  • Dinsdag, die 6de Maart, zip ons Kaap toe en vlieg weer Gauteng toe
  • Dan hou ons vakansie tot ons weer huis toe gaan.
Soos enige goeie plan is die kanse goed dat ons alles hierbo gaan ignoreer, mis, of vergeet. Deal daarmee.

PS: Ek en Hermine het vanmiddag 'n baie lekker koffie gedrink op die 7de vloer van The Tate Modern. Die foto hierbo was ons uitsig. Die Tate is 'n baie lelike kragsentrale wat omskep is in 'n moderne kunsgallery. My raad is om nooit na die gebou of die kuns te kyk, want dit maak mens naar. Maar die koffie is regtig lekker, en die uitsig is die koffie werd.

Monday, January 01, 2007

Catch-up

Geseende nuwejaar vir almal! Ek hoop werklik dat 2007 vir jou 'n mooi en gelukkige jaar sal wees.


Ons het die nuwejaar vieringe baie rustig gevat. Het sommer die vuurwerke op TV gekyk, wat seker aan die lui kant klink, maar daar is mos niks fout met 'n rustige aand in nie? So daar is nie fotos daarvan nie, maar ek gaan probeer om so bietjie catch-up te speel met Desember:

Ons het darem nie 100% niks gedoen vir Nuwejaar nie. Ek, Mien en Christelle het sommer na 'n pel se huis omgesien om so bietjie weg te kom van ons eie plekke af - 'n change of scenery, ens. Ons het die aand rustig binne spandeer en vuurwerke op die TV en deur die venster gekyk. Vanoggend was dit die mooiste dag in Londen vir weke, en ons het om die Royal Victoria Dock gaan stap. Die foto regs is na Canary Wharf se kant toe geneem. Soos ek nou hier sit reen dit alweer - net 9 ure later... Oh well. Gaaf dat 2007 so mooi sonnig kon begin.

Een van die redes dat ek so stil was oor die afgelope klomp weke het meestal te doen met 'n internasionale komplot. Ja, OK. Dit klink erg, maar hier is wat gebeur het: Hermine wou haar suster verras oor Kersfees, want Chirstelle sou alleen hier bly terwyl ek en Hermine SA toe gegaan het vir die gewone SA vakansie wat meeste van ons pelle hier doen. Om Christelle behoorlik te fnuik het ons almal betrek om saam te lieg. Sy het gedink ek het die 10 Desember huis toe gevlieg, en dat Hermine my die 20ste kom join het. Ons het haar gegroet en alles. Tot haar ouers het maar saam help lieg. Selfs Christelle se baas op die perdeplaas waar sy werk was in op die hele ding, en het Christelle gevra om 'n vriendin van haar te gaan oplaai op Andover stasie die Vrydag voor Kersfees. Maar dis dit ek en Hermine! Muwhaha.

Ons het 'n great Kersfees in Andover/Newbury omgewing gehad. Die Engelse platteland is regtig lieflik, selfs al is dit bietjie bemis en koud. Ons gemiddelde dag temperatuur was in die omgewing van 2 grade. Dit was nie 'n White Christams nie, maar daar was wel ys onder die bome en heinings. Brrrr! Op die fotos sit ons klomp met ons geskenke. Ek het 'n cool RC helikoptertjie gekry. Die die ander foto is 'n goeie opsomming van die omgewing en weer: Grys, modderig en so koud dat die mis wat kondenseer op die plante vries en vir dae lank onder dit lê. Maar die plek is mooi ook. Die country-lanes is soos lang drive-ways wat vir myle deur digte woude en plaasland kronkel. Ek was baie bly ek kon dit beleef oor Kerstyd.

Sommige sal ook dalk onthou dat ek so 2 maande lede gemoan het dat ek lus is vir Biltong. Ek het toe vir my 'n 5kg biltongmaker bestel uit SA uit, en vir Kersfees kon ek my eerste bacth geniet. Hierdie masjien is sommer net plain briljant, en ek dink elke laaitie in Londen moet een hê :) Op die oomblik is my 2de batch aan die droog. My bek water sommer.

Ons het ook gaan ysskaats, 'n Kerssangdiens by die kerk gehad (waar ek help stage bou het), en nog klomp goeters. 2006 was 'n vol en wonderlike jaar. Ek het so 4500 fotos geneem, en ek hoop dat 2007 selfs meer fotos sal bring. Wat hierdie blog betref: Ek gaan heel moontlik baie minder kans kry daarvoor, alhoewel ek glad nie van plan is om nie fotos te neem nie. Ek sal dalk net minder random stuff hier kom plak, en eerder fokus op spesifieke plekke/geleenthede soos die tyd toelaat.

Ek het ook 'n plan oor 'n bietjie produktiewe tydverdryf vir 2007. Ek wonder al lankal hoe moeilik dit sal wees om my PC te oortuig om interresanter goed te doen as Mp3's speel en videos kyk... So my idee is om my PC so bietjie te interface met alles van my PDA af tot die koffie masjien. Bietjie erg? Maybe, maar vir stap 1 gaan ek Bluetooth module koop en kyk of ek my bedlampie kan verander na 'n electronic dimmer light vanaf die PC. Behoort lekker speel te wees, en sommer sorg dat my brein nie te veel roes nie.

Groete almal. Voorspoed vir 2007.