Rivier Lewe
Hermine en ek het Sondag langs die rivier gaan stap. Dit was nog nie enigsins naby aan my definisie van somer nie, maar die weer was lekker vir stap, en ons kon selfs oorweeg om roomys te kry by Ben & Jerrys. Ingeval jy nie weet nie... As jy iets soos ´n McFlurry soek in die UK, moenie McDonalds toe gaan nie. Hulle goed smaak soos grond. Maar Oom Ben & Jerry weet wat hulle doen met roomys.Vir ´n laat middagete het ons ´n draai by Subway gemaak en elkeen ´n lekker sub gekoop, verby St Pauls gestap rivier toe en ´n bankie gesoek. In die foto sit die Millenium Bridge met The Tate Modern in die agtergrond. Laasgenoemde is ´n ou kragstasie wat nou ´n 7 verdieping kunsgallery is. Ek was laas jaar daar en kan dit aanbeveel. Mens kan ook ´n goeie uitsig kry van die boonste vloer en restaurant.
Net langs The Tate is Shakespeare se Globe Theater. Ek was nog nie daar nie, maar wou hierdie weird foto deel. Die 5 hyskrane agter die teater het heel moontlik nie daar gestaan toe William sy wraak op engelse studente reg oor die wêreld geskryf het nie.
Tower Bridge (tydens uitstekende roomys). Dit bly darem ´n mooi baken en iets wat mens moet gaan sien.
Net regs van die boonste foto staan hierdie geboue. Dit het vir my gelyk of die geboue self ook die rivier uitsig kom geniet het.
Skemer vanaf Tower Bridge. Ek staan op die brug en kyk wes oor Londen. Iewers verder af in die rivier is The London Eye en Big Ben, maar waar ek nou staan is dit reeds prentjie mooi.
Dit het my opgeval dat wanneer ´n stad so teen ´n rivier ontwikkel, dit nie anders kan as om soos onkruid te groei nie. Stede ontstaan vir baie redes, maar as jy water naby het, kan dit nie anders as om te floreer nie. Ek was onlangs by The London Museum en was stomgeslaan oor die skaal van geboue wat reeds hier was tydens die Romeinse tydperk. Londen was toe al ´n groot stad. Die rivier het natuurlik toe selfs meer singemaak in terme van vervoer en handel. In Suid-Afrika het ons ´n kuslyn, maar die see is moeiliker om te gebruik omdat jy groter skepe nodig het om veilig te vaar. Maar hier op die rivier kon elke inwoner sy goedere op ´n eenvoudige longboat of barge gooi en dit beweeg.
Mens moet die rivier beleef om Londen te verstaan. Jy kan nie net iewers hoog op klouter en na die stad op ´n afstand kyk nie. Mens moet langs die rivier af stap. Jy sien soveel ou en nuwe goed wat rondom die rivier gebou is. Dit laat die stad leef.
1 comment:
Interessant en mooi foto's . Dankie daarvoor. Verlede keer se braaivleis lyk nou nog lekker. Dit is so tussen 12 an 16 grade in SA. Was redelik sneeu op die Sederberge , wat veroorsaak het dat die Clanwilliam dam se vlak goed gestyg het . Groete Hennie
Post a Comment