Monday, September 03, 2007

Die een wat nie weggekom het nie

Brighton. Iemand in die kantoor het gereel dat ons 'n boot huur en gaan visvang. Ek het nog nooit op die oopsee vis gevang nie, so toe gaan ek saam. Onder is 'n klomp van my kollegas in ons bootjie. Daar was seker so 30 mense op die boot wat nie vreeslik groot was nie.
Ons was daar om makriel te vang. Hulle is blykbaar maar 'n dom visse, en byt maklik. So mens vang hulle sonder aas - net 'n helder plastiek veertjie aan 'n hoekie. Ons visstokke het 4 hoeke aangehad, en ek het meer as een keer 3 op 'n slag uitgetrek. Mens het nie vreeslik baie plek nodig om vis te vang van die boot af nie. Ek dink 'n handlyn sou goed gewerk het, maar ons het sulke half-lengte visstokkie gehad. Jy smyt jou lyn oor oor die kant en laat hom rol tot op die bodem - dis so 40 meter diep. Dan 'n paar draaie op en dan pluk jy die lyn op en af. Na 'n rukkie voel jy 'n byt en dan katrol jy in. Die foto onder wys die kus van Brighton, met 'n stukkie van die Marina sigbaar links. Ons was nie ver van die kus/hawe af nie, maar ver genoeg dat ek nie sou wou terug swem nie. Die kus herinner aan Dover, met die witkalksteen sigbaar.
My vangs van die dag. Die bak naaste aan die kamera was my 'n pel van die werk s'n. Ek het ophou tel by 7, maar van die ouens het meer as 2 dosyn gevang.En die beste deel. Die braai! Ons het sommer die vissies op die klipperige strand skoongemaak (ek het self myne gedoen, ja) en net daar gebraai. Mens kry hom nie varsser nie.
Dit was dalk 'n snaaksigheid om te gaan visvang, maar daar is ook so bietjie goeie sin daarin. Dit het net £14 per persoon gekos om daai boot te huur. Mens kon verseker nie al daai vis gekoop het by 'n supermark vir dieselfde prys nie. En die braai op die strand was nie net lekker gesellig nie - ek daag jou uit om lekkerder vis in 'n restaurant te kry. Wat maak jy volgende naweek?

Monday, August 27, 2007

Skotland

Dis nou al 'n geruime tyd dat ek nie hier geskryf het nie, maar ek het 'n goeie verskoning. Die kat het my huiswerk ge-eet en kleintjies gekry op my keyboard en toe kon ek nie tik nie en stuff. Ser-i-ous.

As 'n laaste bietjie kuier en toer het Hermine, Christelle en ek Skotland toe gegaan vir 'n klompie dae. Ons het sommer die trein gegryp uit Londen uit. Die redenasie was dit dit netso duur is, en dat die minder pyn is as om deur 27 hekke te gaan en ondervra word oor jou keuse in ontbyt pap. Met al die gedraai van lughawens hier, sou die vier en half uur treinrit presies dieselfde tyd gevat het as 'n vliegtuig. Boeta, daai trein moooove!

Dag 1: Aankoms in Edinburgh. Ons het in Edinburgh begin op 'n Vrydag. Die foto onder is geneem in The Mile, wat meestal 'n toeriste straat tussen die Stadsaal en die kasteel is. Klomp goed om te sien en te koop, natuurlik. Baie ou geboue. Dit was lekker om so nou en dan vas te haak iewers en so bietjie geskiedenis of useless information te lees. Die weer was maar grys, maar teen laat middag het ons 'n stukkie blou lug gehad.

Bo aan The Mile is oa hierdie tartan-weef fabriek. Dis die plek waar hulle steeds die tradisionele skotse rokkies maak. Ook hordes ander goed uit wol. Die plek is nogal groot en kleurvol, soos die foto wys. Mens kan hier ook leer watter clan watter tartan-patroon dra. Oorkant die fabriek is 'n whisky plek, en die toer daar was verbasend goed. Nie gedink ek sal whisky kan sluk nie, maar op die ou end was ek beindruk, EN nugter. Sal oorweeg om weer eendag 'n sluk of twee te vat.
Dag 2: Edinburgh na Fort William. Saterdag het maar grys begin, en ons het die oggend nog 'n draai in Edinburgh geloop. Die middag het ek my wiele gaan haal. Die gawe mense het my 'n Golf 5 TDi geleen vir die volgende paar dae. Diesel is nie heeltemal my ding nie, maar bo so 3500 rpm maak hy mens bang, en ek moes gereeld keer of ek ry vinniger as die spoedgrens. Ons het uit Edinburgh gery na Stirling, waar die William Wallace (Braveheart is gebaseer op hom) monument staan. Die res van die dag het ons noordwes gery tot in die Highlands. Die Skotse platteland is groen en bergagtig hier. Mooi selfs met die wolke en ligte reen.

Dag 3: Inverness, Eilean Donan, Fort William. Na 'n goeie nagrus by 'n gawe tannie in 'n Bed & Breakfast, het ons vroeg Sondag die pad gevat Inverness toe. Die weer het weereens vaal begin, en dit het goed ingepas by ons eerste bestemming. Die slagveld by Culloden is waar daar 'n vreeslike bloedige geveg was tussen die Skotte en die Engelse. Die hele slagveld is vol gedenkstene waar die verskeie Clans geval het. Dis 'n groot oop stuk modderige vleiland, en ek kan net dink hoe gruwelik dit moes wees om hier te baklei.

Oppad terug van Inverness/Culloden het ons by Loch Ness gestop. Hermine en ek het tyd geneem om die Monster te sien, en toe het ons verder gery... Ek het meer van 'n toeriste trap verwag, maar was bly om te sien dat die plek goed bestuur word. Dis 'n onbeskryflike mooi meer, en ek is bly ek kon daardie sy daarvan ook sien.

Nog 'n hele klomp kilometers verder (dankie Golf!), het ons tot by Eilean Donan gevorder. Dis die kasteel wat in Highlander gewys word. Dit was al 5pm, nadat ons 8am vertrek het, maar die son sak mos laat hier in die somer. So die foto is geneem, ons het so paar minute rondgestaan en toe waai ons weer. Mens raak bietjie bederf met kastele hier. Daar is een om elke draai in Skotland.

Hermine reken mens moet 'n Hairy Coo (dis hoe die Skotte dit uitspreek) afneem as jy hier is. So Christelle het hierdie een vertel hoe ver ons al gery het daai dag, en die reaksie vasgelê.

Dag 4: Oban en Mull. Maandag oggend het ons weer vroeg in die pad geval oppad na Oban toe. Dis in weste van Skotland, in 'n deel waar daar dosyne eilande is. Daarom is dit ook so 'n mooi plek, selfs volgens Skotland se standaarde. Ons wou betyds wees vir die ferry oppad na Mull toe. Ek het Hermine en Christelle afgelaai sodat hulle kon kaartjies koop terwyl ek die kar gaan parkeer. Maar natuurlik in Oban weet hulle mense soek parkeerplek, so oral vra hulle geld, en piesang het geen kontant op hom nie. Lang storie kort, ek het op die ferry geklim met sekondes om te spaar. En onmiddelik was dit rustig. Die enorme ou ferry het uit die hawe gevaar en die uitsig hieronder vir ons gegee. Dit was 'n wonderlike sonnige dag, en die Skotse weer het opgemaak vir die bietjie grysheid van die agfelope paar dae.

The Isle of Mull, en Duart kasteel. Dis waar Hermine gewerk het in 2004, en sy was behoorlik opgewonde om dit uiteindelik vir my en Christelle te kon wys. Mull is een van die grootste eilande in Groot Brittanje, en het so 1800 inwoners. Die ferry stop by dorpie genaamd Craignure, en van daar het 'n vriendin ons kom optel oppad kasteel. Ons kon deur die kasteel stap en Hermine het 'n paar ou gesigte opgesoek. So het ons ook die minder-toerisagtige details gekry van die plek. Maar vir die rekord. Dis die clan huis van die clan MacLean, en hoof woon nog daar sekere dele van die jaar. Die familie geskiedenis is uitgestal, en ek het dit geniet om deur die plek te dwaal en te wonder hoe dit moes wees om daar groot te word.

Aan die anderkant van die eiland is Tobermory - die grootste dorp (700 mense). Dis so doodstil en rustig, ek kan myself sien daar aftree. Ons het 'n middagete geniet met die uitsig hieronder, en later so om die baai gestap en gekyk na die toeriste winkels terwyl ons die sonnetjie geniet het. Terug in Mull het ons die baie lang dag afgesluit met 'n stewige aandete, Skotse danse en doedelsak musiek. Ja, mens kan net soveel daarvan hanteer. Ek het uitgevind hoeveel.

Dag 5: Loch Lomond. Teen Dinsdag was ons al 3 al goed moeg, so ons het dit rustiger gevat. Die dag het begin met 'n cruise op Loch Lomond, en ek en Hermine moes ongelukkig die onderste foto laat neem. Jammer.

Later die middag het ons gaan eet by The Drovers Inn. Dis 'n pub wat al daar staan van 1705, en die plek word opsetlik so bietjie stowerig gelos binne vir atmosfeer. Dis 'n heerlike kuierplek, en my aandete van Skotse salm was 10/10. Ek wens ek kan nog kry! Na Drovers het ons koers gekies na ons blyplek, wat 'n youth hostel was wat meer soos 'n kasteel gelyk het. Het ou daar ontmoet wat refoor Engeland met sy fiets ry. Scott het al op daai stadium 8 dae lank getrap vanaf die suide van Engeland al die pad tot in Skotland, en was behoorlik moeg. Hy was dus 'n baie goeie kamermaat - die stil tipe.

Dag 6: Loch Lomond na Edinburgh. Die laaste dag het ons verby Glasgow gevat, om die foto hieronder te neem. Ek dink dis die eerste keer wat ek sonskyn sien in Glasgow. Ons was maar haastig oppad, want die middag moes ons alweer in Edinburgh wees om die trein huis toe te vang.

Skotland was net die medisyne vir oorwerkte siele. Ons het in 6 dae ongeveer 1000 km gery, baie gesien, en baie kans gehad om net so bietjie rustig in die natuurskoon stil te staan ook. As 'n Kapenaar het dit my hart goed gedoen om weer tussen berge te wees. Die baie water en eilande is weer 'n heel ander ervaring, en een wat ek nooit sal vergeet nie. Al was dit somer, was dit gewoonlik aan die koel kant. Ek sidder om te dink watse weer mens hier moet verdra in die somer. Daar lê geskiedenis om elke hoek en draai hier, en weereens, nes Engeland, is die geskiedenis soveel langer as Suid-Afrika s'n. As ek terug gaan, sal ek graag verder die eilande wil gaan verken, dalk omdat ek nie gewoond is om op ferries te klim nie - dis 'n lekker gevoel. Ek hou van die plat water en die versteekte baaie. Miskien self 'n seilbootjie vaar. Wie kom saam?

Monday, May 07, 2007

It was the best of times...

Ek het Hermine weggesleep van die boeke oor die langnaweek om vir haar Rochester te gaan wys. Daar was 'n Sweeps Festival (soos Chimney Sweeps) aan die gang, wat beteken dat klomp normale mense in kostuums aantrek en in die strate dans. Rochester is ook een van die plekke waar Charles Dickens gelewe het, en van sy boeke speel hier af. Dis hoekom mens om elke hoek en draai 'n pleknaam sien wat sinspeel op sy werk, soos die restaurant se naam hierbo.
Hierdie is een van die groepie mense wat so bietjie in die straat geskoffel het. Baie van die mense het klompe aan, en elke span het sy eie kleurskema. Dit het my nogal baie herinner aan die klopse in die Kaap, behalwe die mense is nie heeltemal so lewendig as die SA weergawe nie.
Hierdie karakter was die Town Rat Catcher. Hy was gaaf genoeg om 'n paar kinders te koop aan te bied, maar ongelukkig was my tjekboek in my ander broek se sak. Daar het ook 'n duif rustig in die restaurant ingestap, en die ou het hom met groot onvernuf uitgehelp, nadat die duif seker was hy wou in elkgeval nie meer daar uithang nie.
Rochester Cathedral. Hierdie indrukwekkend katedraal staan naby die Medway rivier, en in die middel van die dorp. Netsoos St Pauls in Londen het dit my hier weer opgeval dat ek in 'n gebou rond stan waarvan die geskiedenis ten minste 2 keer so lank is as die hele (wit) Suid-Afrika s'n.
Ek dink die binnehof van die katedraal was baie meer spesiaal. Dit was stil en rustig, met 'n mooi tuin en rose reg rondom. In die middel was 'n boom waarin kinders hulle Paasgebede opgehang het. Wens ek kon hier sondagskool gehad het.
Rochester Castle. Of Keep, soos ek seker is Warcraft fans sal herken as mens mooi oplet na die vorm van die ding. Wie sê mens leer niks van PC games nie? En, soos eg aan die tyd, was daar 'n 'n mallemeue, swaaie, spookasem en hotdogs.

Wednesday, April 25, 2007

Life in the country lane

Gillingham, Kent, United Kingdom. Dis my nuwe dorp daai. Ek woon nou in die Suid-ooste van Engeland, 'n deel wat bekend is vir sy kastele, geskiendenis en poort na die res van Europa.

Ingeval ek dit nog nie op 'n ander manier laat hoor het nie, ek het toe uiteindelik werk gekry as 'n Ingenieur. Ek werk by Delphi, 'n baie groot enjin komponent verskaffer vir die motorindustrie. Ek woon sommer lekker naby aan die kantoor, en kan stap as ek die dag fluks voel. Die platteland se publieke vervoer is baie eenvoudiger as Londen s'n, so ek kyk maar uit vir 'n kar. Dit sal nogal lekker wees om weer my tjor te hê.

So tussen deur die trek en die blyplek soek en al die nuwe admin het ons darem kans gehad om die omgewing te gaan verken. Ek dink die ergste is ook nou eers verby, aangesien ek meestal almal gebel het, en alles uitgesorteer het rondom my nuwe blyplek. So hier volg, wat hopelik die begin is van nog baie fotos van die Kent distrik...

Hier is die ferry laai sone in Dover, waar mens sommer kar en al op 'n boot ry en 40km later in Frankryk is. Hulle sê mens kan op 'n mooi oop dag vir Frankryk sien, maar dis 'n lieg. Daar is nie so iets soos 'n mooi oop dag in die UK nie. Dis nogal mal om die ferries dop te hou. Daar is permanent so 2 of 3 sigbaar in die stukkie see om die hawe, en die lorries en karre beweeg die hele tyd oor die gekoekte stul pad wat in die hawe in loop. Ek sal dit eendag nog aanpak, maar nie vandag nie.
The white cliffs of Dover. Cue die lemmings. Mens moet so bietjie mooi na hierdie foto kyk. Ek staan hoog op, en hier stop Engeland baie skielik en val in die see in. Die kalksteen is spierwit, en mens se bas raak net so wit as wanneer jy teen 'n witbord gaan staan. Dis moeilik om sien in hierdie foto, maar doer onder by die water is 'n klein stukkie strand - maar net met klippiess. En 'n leer om daar te kom. Hier tan mens nie so lekker nie.
Pieter en ek, by 'n nice Ford Focus wat ek vir die naweek gehuur het. Pieter het kom kuier vanaf Amerika af terug na SA toe, en my en Hermine die perfekte verskoning gegee om Kent verder te gaan verken. En vir my om 'n kar te huur! Die Focus was OK, maar ek verkies die Mazda 3 wat ek in Skotland gehad het... verlang verlang verlang. Die geel stuff is rapeseed. Ja, jy het regelees, maar dink raap, nie die ander ding nie. Gaan lees gerus verder by die link, maar om op te som, rapeseed (ook Canola) word gebruik vir kookolie en bio-Diesel. Dis ongelooflik geel, en die HELE Engelse platteland staan tans toe onder die goed.
Leeds Castle. Hierdie is 'n regte foto. Die swaan is regtig. Die kasteel ook. Die plek het 'n baie lang geskiedenis en baie van Shakespeare se koning Henry's het hier uitgehang, of ander mense gehang. Ons het die oggend hier spandeer, en niemand gehang nie. Mens mag nie.


Hermine het wel aan hierdie boom gehang, en hom so bietjie gewen ook. Ons staan tans in die voorhof van die kasteel, op die eiland in die boonste kasteel. Terwyl ons daar was, het die direkteur van die kasteel se raad daar opgedaag. Niks fancy nie. Niemand het die ou aangekondig nie. Hy was net daar op besigheid. Maar mens kan so presence voel van geld. Die ou oommie het ook 'n manier gehad om daar rond te stap asof die plek syne is (wat dit eintlik is). Yikes. Daai sal 'n stewige cheque-boek wees.
Na die dag was ons absoluut pootuit, en het behoorlik nodig gehad om die volgende 2 dae te rus. Maar gou sal ons nog fotos neem van die plek.

Groete almal!


SA se verlore fotos

Ek het toe darem my SA fotos opgespoor. Met al die trekkery tussen hier en Londen het dinge maar bietjie woes gegaan. Die foto CD was op ou end in 'n DVD houer ingeprop.

Anyway...

SA was ongelooflik lekker, en selfs al was my en Mien se skedule geheel en al verregaande, het ons genadiglik by byna almal uitgekom. En vakansie gehou ook!

Hier is Kaapstad om die dag wat ons Haroldsbaai toe gery het. Vanaf Sit Lowry's pas lyk dit darem wraggies soos een of ander poskaart. Ons het sommer by die uitkyk punt gestop. Daar het 'n ou met sy paraglider gelanseer, en my weer van voor af lus gekry om ook eendag so iets aan te pak. Die man het dit werklik maklik laat lyk om by 'n berg af te spring.


Heidelberg. Ons sanctuary tydens al die mal gekuier. Hermine se ouers het gesorg dat ons tuis is en rustig kon verkeer. Daar het so nou en dan 'n pel kom kuier, maar die tyd was meestal my en Hermine s'n om te ontspan. Ek het ook so tussendeur daar verjaar, en Miena het my getreat by Die Plaaskombuis vir koek en tee.


Hermine, Marianne, Cobus en Lara. Cobus hulle het kom kuier oor die naweek vir 'n lekker braai en aartappelslaai. Hmmmmmmmm, aartappelslaai!



Een van die menigte kuiersessies. Dis die laaste spul van Mugg & Bean in Tygervallei. Het so vinnige geselsie ingekry met 'm hele klomp mense. As jy daar was, baie baie dankie vir die inloer.



Dirk en Ronel se troue. Dit was wonderlik om saam het die twee hulle troudag kon deel. Daar het 'n hele klomp bekende gesigte saam getravel Tulbagh toe vir 'n baie mooi troue. Dirk en Ronel, en wens julle twee baie seen en blydskap!

En dit was SA. My kaartjie is reeds geboek vir Desember. Dit beloof om rustiger te wees, maar hopelik sien ek netsoveel mense en kuier netso lekker.

Wednesday, March 21, 2007

Tipiese SA vakansie

OK, ja. Ek was SA toe. Ek het baie fotos geneem. Ek het selfs 'n CD gemaak net voor ek weer UK toe gekom het sodat alles reg is om dit hier te kom plak... En nou is die CD verlore in die entropie van my kamer.

Ek gee op. Wie het my CD?


Monday, February 12, 2007

Rapid fire

Hi almal. Ek skeep die fotos so bietjie af, maar ek neem steeds klomp as daar kans is. Hier volg die hoogtepunte...

  • Ek en Hermine is Skotland toe vir haar verjaarsdag. Ons het onder andere 'n kar gehuur en van Glasgow na Oban gery (lieflike stuk pad). Die foto hieronder is van Oban. Op die heuwel staan McCaig's Tower.
  • Dit het ook gesneeu hier in die stad van London. Die publieke vervoer was 'n gemors, maar ek het die geleentheid gebruik om baie snaps te neem oppad werk toe. Die foto onder is geneem van Stratford se park, by die busstop wat ek elke oggend mee stasie toe gaan. In die somer is hierdie plek grasgroen, in die lente geel van die affodille, maar ek het nooit gedink ek sal hom so wit sien nie. Dit was die heel lekkerste om op die vars sneeu te stap - dit kraak so onder mens se voete!

  • Hierdie afgelope naweek was ons vinnig Portsmouth toe, aan die suidkus. Dis 'n groot hawestad, en ons het die dag deurgebring by iets wat baie is soos Kaapstad se Waterfront. Het sommer huis toe verlang. In Portsmouth, staan die Spinnaker Tower, 'n 170 meter toring met 'n uitkyk dek meer as 100 meter bo seevlak. Mens kan tot 35 km ver sien van daar bo af. Die foto hieronder is wys die hawe monding met die Isle of Wight in die agtergrond. Die ferry is net oppad na die eiland toe. Mens kan ook die hovercrafts sien as hulle oor die baai jaag na Wight toe. Aan my regterhand lê 2 Royal Navy aircraft carriers - kleiner as die US s'n omdat die UK harriers gebruik, maar steeds vrek cool. Het die uitstappie baie geniet. Hoe sommer net daar bly...

Sunday, January 14, 2007

PVA

Hier volg die Plan Van Aksie... In tipiese 'Allo 'Allo styl: "I vill zay zhis only vounce..."

Ek en Hermine kom kuier in SA vanaf die Saterdag, die 24ste Februarie tot die 9de Maart. Dit gaan maar 'n hit-n-run kuier wees, want ons moet baie inpas in die kort tydjie by die huis. Sover lyk die planne so:

  • Land Saterdag, 24 Feb en rus by Miena se ouers in Gauteng.
  • Braai Sondag, 25ste (Cobus & Lara)
  • Maandag tot Woensdag gaan ek en Hermine vakansie hou, die son geniet en almal ignoreer.
  • Donderdag, die 1ste Maart vlieg ons af Kaap toe. Ons land rondom middagete en steel 'n kar by die lughawe. Dan jaag ons see toe om weer 'n slag die sand tussen die tone te voel, ens. Die aand kuier ons by my Pa.
  • Vrydag oggend hang ons in Stellenbosch uit. Die middag kry ons vir Johan op die lughawe en die aand gaan ons heel moontlik 'n Koffie & Kuier aand iewers hou, heel moontlik by Mugg & Bean, Tygervallei.
  • Saterdag oggend is dit tee saam met van Hermine se familie. Saterdag middag is daar blykbaar 'n trou of 'n ding aan. Ek dink dis in Grabouw, of Ceres, of iets...
  • Sondag vat ons vir Johan lughawe toe en zip George toe.
  • Maandag hou ons vakansie.
  • Dinsdag, die 6de Maart, zip ons Kaap toe en vlieg weer Gauteng toe
  • Dan hou ons vakansie tot ons weer huis toe gaan.
Soos enige goeie plan is die kanse goed dat ons alles hierbo gaan ignoreer, mis, of vergeet. Deal daarmee.

PS: Ek en Hermine het vanmiddag 'n baie lekker koffie gedrink op die 7de vloer van The Tate Modern. Die foto hierbo was ons uitsig. Die Tate is 'n baie lelike kragsentrale wat omskep is in 'n moderne kunsgallery. My raad is om nooit na die gebou of die kuns te kyk, want dit maak mens naar. Maar die koffie is regtig lekker, en die uitsig is die koffie werd.

Monday, January 01, 2007

Catch-up

Geseende nuwejaar vir almal! Ek hoop werklik dat 2007 vir jou 'n mooi en gelukkige jaar sal wees.


Ons het die nuwejaar vieringe baie rustig gevat. Het sommer die vuurwerke op TV gekyk, wat seker aan die lui kant klink, maar daar is mos niks fout met 'n rustige aand in nie? So daar is nie fotos daarvan nie, maar ek gaan probeer om so bietjie catch-up te speel met Desember:

Ons het darem nie 100% niks gedoen vir Nuwejaar nie. Ek, Mien en Christelle het sommer na 'n pel se huis omgesien om so bietjie weg te kom van ons eie plekke af - 'n change of scenery, ens. Ons het die aand rustig binne spandeer en vuurwerke op die TV en deur die venster gekyk. Vanoggend was dit die mooiste dag in Londen vir weke, en ons het om die Royal Victoria Dock gaan stap. Die foto regs is na Canary Wharf se kant toe geneem. Soos ek nou hier sit reen dit alweer - net 9 ure later... Oh well. Gaaf dat 2007 so mooi sonnig kon begin.

Een van die redes dat ek so stil was oor die afgelope klomp weke het meestal te doen met 'n internasionale komplot. Ja, OK. Dit klink erg, maar hier is wat gebeur het: Hermine wou haar suster verras oor Kersfees, want Chirstelle sou alleen hier bly terwyl ek en Hermine SA toe gegaan het vir die gewone SA vakansie wat meeste van ons pelle hier doen. Om Christelle behoorlik te fnuik het ons almal betrek om saam te lieg. Sy het gedink ek het die 10 Desember huis toe gevlieg, en dat Hermine my die 20ste kom join het. Ons het haar gegroet en alles. Tot haar ouers het maar saam help lieg. Selfs Christelle se baas op die perdeplaas waar sy werk was in op die hele ding, en het Christelle gevra om 'n vriendin van haar te gaan oplaai op Andover stasie die Vrydag voor Kersfees. Maar dis dit ek en Hermine! Muwhaha.

Ons het 'n great Kersfees in Andover/Newbury omgewing gehad. Die Engelse platteland is regtig lieflik, selfs al is dit bietjie bemis en koud. Ons gemiddelde dag temperatuur was in die omgewing van 2 grade. Dit was nie 'n White Christams nie, maar daar was wel ys onder die bome en heinings. Brrrr! Op die fotos sit ons klomp met ons geskenke. Ek het 'n cool RC helikoptertjie gekry. Die die ander foto is 'n goeie opsomming van die omgewing en weer: Grys, modderig en so koud dat die mis wat kondenseer op die plante vries en vir dae lank onder dit lê. Maar die plek is mooi ook. Die country-lanes is soos lang drive-ways wat vir myle deur digte woude en plaasland kronkel. Ek was baie bly ek kon dit beleef oor Kerstyd.

Sommige sal ook dalk onthou dat ek so 2 maande lede gemoan het dat ek lus is vir Biltong. Ek het toe vir my 'n 5kg biltongmaker bestel uit SA uit, en vir Kersfees kon ek my eerste bacth geniet. Hierdie masjien is sommer net plain briljant, en ek dink elke laaitie in Londen moet een hê :) Op die oomblik is my 2de batch aan die droog. My bek water sommer.

Ons het ook gaan ysskaats, 'n Kerssangdiens by die kerk gehad (waar ek help stage bou het), en nog klomp goeters. 2006 was 'n vol en wonderlike jaar. Ek het so 4500 fotos geneem, en ek hoop dat 2007 selfs meer fotos sal bring. Wat hierdie blog betref: Ek gaan heel moontlik baie minder kans kry daarvoor, alhoewel ek glad nie van plan is om nie fotos te neem nie. Ek sal dalk net minder random stuff hier kom plak, en eerder fokus op spesifieke plekke/geleenthede soos die tyd toelaat.

Ek het ook 'n plan oor 'n bietjie produktiewe tydverdryf vir 2007. Ek wonder al lankal hoe moeilik dit sal wees om my PC te oortuig om interresanter goed te doen as Mp3's speel en videos kyk... So my idee is om my PC so bietjie te interface met alles van my PDA af tot die koffie masjien. Bietjie erg? Maybe, maar vir stap 1 gaan ek Bluetooth module koop en kyk of ek my bedlampie kan verander na 'n electronic dimmer light vanaf die PC. Behoort lekker speel te wees, en sommer sorg dat my brein nie te veel roes nie.

Groete almal. Voorspoed vir 2007.