Tuesday, December 19, 2006

Silence is Golden

'n Prentjie van so tolbos wat oor skerm waai sou nogal goed gewerk...

Yep. Ek is bietjie stil, maar dit gaan goed. Spekvet en gesond is nogal 'n goeie beskrywing, en dis nog nie eens Kersfees nie. Sal sommer gou weer 'n paar fotos hier kom plak. Maar ek wil darem die foto hier onder deel. Ons het 'n hele klompie weke gelede gaan ysskaats. Was groot sports.


Geseende Kersfees, almal!

Wednesday, November 15, 2006

Soos Roomys

Die ding met Engeland is dat dit vrek goedkoop is om te reis, solank mens bietjie vooruit boek en mooi beplan. So beland ons toe in Glasgow hierdie naweek. Sommer net sommer.

Ons het vroeg Saterdag oggend op die vliegtuig geklim. Mens besef hoeveel lugverkeer hier is as jy heelpad parallel met 'n ander vliegtuig vlieg. Lyk my daar is net soveel aanvraag dat dit betaal om direk te kompeteer - vlug vir vlug. Ons vliegtuig kaartjies het 1 pennie gekos. Al wat bykom is die belasting, wat steeds minder uitgewerk het as 'n trein kaartjie.



Glasgow Prestwick lughawe het 'n moderne skotse tema. En soos die prentjie hier langsaan wys, is die weer lekker bevoeterd. Ons het geland in die reen. Teen die einde van die nodige Starbucks koffie het die son geskyn, en teen die tyd dat ons trein toe gestap het, het die wind al die bome het die grond uitgelig.




Na 'n rustige, maar langerige rit via trein en bus het ons hy ons hotel opgedaag. Dit was verder van sentraal Glasgow as wat ek gedink het, maar absoluut die moeite werd. Links is die uitsig uit ons kamer. Dit was 'n 3-ster hotel met swembad, jacuzzi en spa. Nie tyd gehad daarvoor nie, maar die restaurant se kos is ongelooflik!



Sondag was dit stad toe om die plek te gaan verken. Ons het vasgehaak in die moderne deel van die stad, waar die geboue baie futuristies lyk. Links is die Armidillo (konferensie plek), die IMAX en Science Centre. Hulle sit aan die wal van die Clyde rivier, wat so net onder die middestad verby loop. Ons het Open Season in 3D gaan kyk by die IMAX. Vrek snaaks.

Die Science Centre het 'n paar interessante sights, maar hierdie een het my amaze. Dis 'n optiese truuk wat dit laat lyk of jou lyf verdwyn.






'n Gebou op St George's square. Dit was dit koud om te onthou watse gebou dit was...







Oppad hotel toe het ons die busstop in die reen loop en soek. Maar hierdie plek het regtig lekker gelyk, toe eet ons eerder daar. La Tasca is 'n Spaanse restaurant en ons kelner se naam was Pedro - van Spanje. Dit was 'n lekker rustige gesels atmosfeer, en Pedro het ons gehelp om die lekkerste ete te kies van die menu af, terwyl ons sommer gesels het oor sy land, ons land en Engeland. Ek sal weer Glasgow toe gaan net vir hierdie plek.



My opinie van Glasgow is nes my opinie van roomys. Dis koud, maar lekker. Volgende keer sal ek die plek goed genoeg ken om meer te gaan sien. Maar vir nou was ek baie bly vir die blaaskans van die groot stad.






Wednesday, November 01, 2006

Blou Naweek

Nog 'n besige naweek agter die rug... Dis Sondagaand 8pm en ek is op 'n trein oppad Waterloo toe - terug huis toe na 'n rustige middag in die Country side.

Vrydag het die werk ons gevat vir die jaarlikse offsite. Dis wat almal in die kantoor sê as hulle praat van 'n kantoor party/dag-uit. Die res van Expedia het so 2 maande gelede Griekeland toe gegaan en die hele naweek daar gekuier op die maatskappy se rekening. Maar ons span moes bly omdat dit maand-einde was. Ook omdat oom Enron gemors aangejaag het is die wêreld van finansies nou in rep en roer en alles moet gecheck en double check word. So maand-einde vat nou ekstra lank.

Anyway. So ons het gaan go-karts ry by Kings Cross en later die aand mooi aangetrek en gaan uiteet naby Green Park. Dit was baie lekker, alhoewel so 40 min se go-karts maak 'n ou lekker seer :) Maar ry sal ons ry! Ek was darem 2de en het die trofee om dit te bewys. Die eetplek was baie deftig en op die spyskaart was daaf selfs 'n £800 bottel Champagne! Terwyl ek daar in my suit sit en eet en gesels met my baas se baas asof ons mekaar jare al ken het ek beide in en uit gevoel. Dis moeilik om te verduidelik, maar dit het lekker gevoel om deel te wees van 'n besigheid wat sulke nice goed kan doen vir die siele wat daar werk. Dit het ook nie 100% ek gevoel nie. Opdress is lekker, maar gee my 'n tafel vol nerds en 'n lekker steak dan kuier ek ewe lekker.

Saterdag het ons Christelle se verjaardag gevier. Ete naby Picadilli Circus tussen die nimmer-eindige gewoel van mense (toeriste?), en toe het ons die Blue Man Group gaan kyk. Dit was die heel beste show wat ek nog hier gesien het (het darem al 'n klompie gesien: Stomp was 'n close 2de). Ongelooflik snaaks, skerp en cheeky. Dis 'n absolute moet-sien.

Vanmiddag het ons bietjie uit die stad ontsnap en gaan kyk waar Cristelle woon en werk. Die middag was so rustig en die plek so mooi dat ek nou erg sit en verlang. Andover is nie 'n mooi dorp nie, maar die omgewing is 'n prentjie. Op 'n heuwel buite die plaas kyk jy af op die village van Stoke. Dis so klein en weggesteek jy kan maklik glo dat tyd daar stil staan - geen tubes, busse, highstreet fashion, McDonalds of ATMs daar nie. Wens ek kon daar bly. Miskien net vir 'n rukkie.

Saturday, October 14, 2006

Portable gedagtes

Ek sit en skryf in 'n boekwinkel. Met 'n huge cappacino voor my. En daar is nie 'n PC in sig nie.

Ek sit eerder en speel met my nuwe speelding. Dis nie 'n laptop nie, alhoewel dit seker nie ver weg is in konsep nie. Dis veronderstel om 'n selfoon te wees, maar dis 'n grap daai. Ek dare enige iemand om aan hierdie konstrapsie te dink as 'n foon - jy sukkel jou dinges los om iemand te bel.

My nuwe MDA Vario. Dis 'n oriaat PDA met vol keyboard en 'n huge lys features wat wie weet wat alles kan doen. Meestal grin ek net as ek nog een ontdek en vergeet van dit, want daar is net te veel 3 letter akronieme om te onthou.

Ek 'n vat sluk van my moffie-koffie. Dis netso ingewikkeld om koffie te koop as om selfone te koop - te veel opsies dat jy op die ou end net vat wat eenvoudig klink en hoop vir die beste :) Buite loop die mense rond met truie en langbroeke. Londen se koue kruip al nader, maar as mens vandag die sonnetjie kry dan bak hy nogal lekker. Ek is in Greenwich (of soos mens hom hier sê: Grenitch). Die toeriste is veel minder as 3 maande gelede, maar daar dwaal wel 'n paar rond. Vandag se stalletjies hier was lekker stil, en ek het so verlang na fotos neem dat ek byna een gekoop het teen £50. Crazy, ja.

By die werk gaan dit te goed. Ek geniet dit om deel te wees van iets, en selfs om kans te kry om hard te werk. Maar ek wag steeds vir daai ingenieurs jobbie.

So, terug by die foon. Een baie cool ding is dat my selfoon kontrak unlimited, altyd aan internet het. So ek kan alles en almal Google! Gister aand het ek 'n VOIP oproep oor die huis se WiFi gemaak, en ook 'n baie cool game Jazz Jackrabbit gespeel. Nes in die ou dae... UFO Enemy Unknown werk ook op die foon, so ek smile al die pad. Dit bring my by 'n ander punt: hierdie foon se specs is veel beter as enige PC wat ek meeste van my skool loopbaan besit het. Hoe mal is dit? En dit weeg net 160g. Gaan ons oor 10 jaar almal Quadro Pentium 4 CPUs in ons telefone hê?

As iemand wat soortvan naby aan die industrie lewe, weet ek dis nie so onmoontlik nie (never say never), maar komaan. Wat gaan ons met ons fone doen oor 10 jaar doen wat daai tipe krag nodig het? As hierdie 200MHz masjientjie reeds kan VOIP, en mens aanvaar video conferencing (sopas uitgevind ek het 'n spellchecker ook) nie soveel meer grunt vat nie, gaan ons uit apps uithardloop om af te show op ons nuutste speelgoed?

Google dreig tans om die wêreld oor te neem, en alles sal op die ou end online wees, so solank jou browser kan byhou is niks fancier nodig nie. Mis ek iets? Waar is die volgende killer app, die ou dae van coders wat meeding en kyk wie se kode die kleinste en vinnigste is? Miskien gaan ons almal se telefone - wat eintlik communication appliances gaan word - geen knoppies hê nie. Alles voice activated of brainwave driven. Dalk gaan ons MSN Messenger werk soos moodrings: jou status message gaan verander soos jou ligaams temperatuur en bioritmes verander. En meer en meer help jou foon jou om jou elke gedagte en emosie te digitize en te email die wye wêreld in.

Dis bietjie erg. Dalk moet ons almal eerder nou al minder tik om so verspotte scenario te vermy. Kom nou julle. Praat met my :)

Die kamera is maar aan die vrot kant as ek eerlik moet wees, maar die 1.3 megapixels is genoeg om ´n idee te gee van Costa in Greenwich. ´n Ander dom ding is dat met al die fancy tegnologie kan ek steeds nie direk van die foon af blog soos ek gewoond is. Ek soek nog ´n program wat direk fotos hier kan plak... Dan kan ek die yuppy in my laat uitkom!

Groete.

Thursday, September 28, 2006

Om die Oog

Ek het byna vergeet om darem ´n foto hier te kom plak... Ek en Hermine het laas Saterdag die London Eye gaan doen. Dit was regtig ´n mooi aand, en ons het dinge so uitgewerk dat ons presies tydens son-onder op die Oog is.

Oppad ondertoe het ek hierdie foto geneem van Big Ben, Westminster en die Teems. Die Oog toring so 130 meter bo Londen uit, en ek was bly dat ek gewag het om dit te doen. Ten minste kon ek nou al die bakens herken, en meestal weet hoe dit daar lyk. Ek kan dit ten sterkste aanbeveel aan enige toerus wat hom/haarself hier bevind. Gaan sien Londen eers van onder, en dan van bo: Jy gaan soveel meer sien :)


Tuesday, September 19, 2006

Bizaar soos by die huis

Laas naweek was kerkbazaar in Londen. Dit was ´n ongelooflike lekker en weird ervaring. Daar was 3000 Suid-Afrikaners van oral oor Engeland om te kom deel in braaivleis, boeresport, pannekoek en potjiekos. Ja, ons het lekker gevreet...

Die bazaar is gehou op ´n plaas so 30km buite Londen waar mens gou die rolling green hills te siene kry. Ons het sommer so ligte stappie om die plaas gevat om te sien hoe dit lyk, dit was lank, maar verskriklik mooi. En toe ons terugkom was dit net mooi tyd vir braaivleis.




Boeresport(s) Teen laat middag het spanne ingeskryf om aan alles van driebeenresies tot eiergooi deel te neem. Dit was vrek snaaks, veral as jy ´n toeskouer was, want die ouens het maar lekker nat en morsig van al die sports afgekom.





Hier mos mens ´n hap appel vat terwyl hulle stroop op jou gooi... Het seker nie nog beskrywing nodig nie?







Pannekoek tafel. Ek het sommer al vroegoggend gaan pannekoek soek, want dit verkoop gou uit. Ek het ook Hertzoggies opgespoor, en daar is darem nog 3 oor in die yskas. En droëwors ook. Dis nie dat ek nie lus is daarvoor nie, dis net dat ek nie ooit wil hê dit moet op raak nie!




Luddesdown is die naaste dorpie(kie), wat eintlik maar net bestaan uit hierdie kerk en ´n huis of twee om dit. Verder is die plaashuise versprei ver rondom dit. Maar dit lyk eg Engels, en het darem gesorg vir nog mooi fotos.





As mens so kuier en weer moet huis toe gaan besef jy hoe baie mens jou land mis, en hoe mens stadig vergeet van die lekker van jou mense om jou hê.


Sunday, September 03, 2006

Inn en Uit

Deesdae is kans vir uitkom so bietjie minder. As ´n man die pot aan die kook wil hou is dit ongelukkig die prys wat mens moet betaal. Maar ek kla nie. ´n Salaris gee mens ander vryhede, soos om nie te worry as jy skielik lus is vir uitgaan nie.

Ons het na kerk gegaan in die rigting van die Queen se uithangplek. Dis nou Buckingham Palace - of soos ek dit altyd sal onthou: Die lelike gebou wat die uitsig vanaf die park opvoeter. In St. James´s Park is daar ´n oulike eetplek genaamd Inn the Park. Ek het dit in die koue winter ontdek in Maart, en wou nog heeltyd weer soontoe gaan om vir Hermine te wys.


Dis regtig ´n lekker kuierplek. Dalk bietjie aan die toeriste kant, so nie doodstil nie, maar ons het lank sit en kuier, soos die fotos getuig.






Mens moet natuurlik eet ook. En na ´n ligte misverstand het ons toe 3 hoofgeregte bestel, maar die waitress was so nice dat ek nie die hart gehad het om die lekker kos terug te stuur nie. Toe eet ons sommer alles op! Vir ´n bar menu is die kos nie sleg nie, maar jy moet maar liefs ponde verdien voordat jy binne in die restaurant gaan eet. Ek dink in elkgeval dat die terras buite ´n baie beter uitsig het - hoekom sou mens dan binne gaan sit?

Dis nogal snaaks as ek daaroor dink. Ek en Hermine werk elke dag saam, maar ons kom nooit by gesels uit nie. Mens moet sulke goed fyn dophou, anders dryf jy so stadig weg en kom dit te laat agter. So ek moet seker vir die Queen dankie sê dat ons in haar tuin maak stap. Volgende keer sal ek vir haar ´n stukkie broodjie bere.

BTW, moet nooit opgewonde raak as daar iets op jou tafel beland wat lyk soos chutney nie. Die Britte het geen clue hoe om chutney te maak nie: Die kanse is goed dat dit so sticky sous is wat ruik soos ou voete. Miena vertel vir my dis ingelegde pickles, maar ek het my bedenkinge...

Friday, August 25, 2006

Hi, ooo, Blommie...

My sonneblomme begin blom! Ek het vanoggend hierdie blommetjie opgelet terwyl ek in ons vieslike tuin rondstap. Ek het hard probeer om die onkruid uit te roei, maar na die afgelope mal maand van werk en Hermine help om te trek en bedreiwighede by die kerk het ek min uitgekom by tuinmaak. So nou lyk dinge maar weer soos dit in Februarie gelyk het. Minus die koue en reen, darem :) Maar die sonneblomme gaan mooi lyk, en die Cosmos blom reeds. En dit maak die huisie in die ooste van hierdie stad myne. Dit voel lekker.

Vir die mense wat oplet in die klas - ek is nie in Skotland nie. Dit was vir lank die plan om hierdie bank holiday (langnaweek) in Skotland te gaan kamp saam met vriende, maar iewers tussen Dinsdag en Woensdag het ek besef dat ek so moeg is dat ek by die huis moet bly. So ek vat nou tyd af om my batterye te herlaai, bietjie die huis ordentlik skoon te maak en sommer net lui te wees. Die gawe ding van Skotland is dat dit nie haastig is nie, en ek reken dit sal nog ´n rukke wag vir my om ´n draai te kom maak. Ek is wel lekker lus vir reis, en hou heeltyd die websites dop vir nice deals. Soos Berlyn vir £100, 2 nagte en vlugte ingesluit. Heng dis cheap om van hier af te travel. Ek kan myself skop dat ek nou eers daarby kan uitkom.

Maar sodra die geleentheid kom, ek nie doodmoeg is nie, gaan ek weer plekke sien!

Saturday, August 12, 2006

Terug in die roetine

London is vandag koud en nat. Die weermense raai dat dit nog weer gaan warmer wees voor winter hier opdaag, maar ek wonder. Ek is nou weer terug in ´n daaglikse roetine van werk en geld verdien - al is dit net tydelik. Dis hoekom die fotos opgedroog het :)

Dis lekker om weer onafhanklik te wees, en ek sit al klaar en spandeer my ponde op ´n virtuele manier... Daar is ook ´n lang naweek oppad, en sover klink dit vir my ons gaan Skotland, wat absoluut heerlik gaan wees. Ek gaan die kans kry om op Britse paaie te bestuur en ´n groot deel van die eiland plat te ry - ek sien baie uit daarna.

So ietsie oor my werk: Ek werk vir Expedia. Dis ´n groot maatskappy wat toerpakkette aanmekaar sit sodat ons gewone mens nie so hard hoef te dink aan ´n lekker naweek nie - hulle doen al die beplanning, jy click en daar gaat jy. Natuurlik het ek niks met daardie sy van die besigheid te doen nie. Ek is maar basies ´n kantoorslaaf wat help met filing en data invoer. En hier is die weird deel: Ek geniet dit. Dis basiese werk, en soms aan die vervelige kant - maar nooit lank nie. Ek helpin die finansies departement en sien gereeld van die syfers wat betrokke is om so groot besigheid te laat werk. Dis gereeld nog ´n skok om sulke huge bedrae te sien deur die boeke gaan. Ek het ook oneindig meer respek gekry vir boekhouers en ouditeurs - dis vrek baie pressure om so werk te doen.

Op my 2de dag het ek gaan luister na Anya Hohnbaum wat deur Expedia gekies is om die wêreld se blouste lug te gaan soek. Sy het 64,000 myl gevlieg met 56 vlugte na 20 bestemmings om die plek met die blouste lug te kry. Dit was vrek interessant om te luister na iemand so ou soos ek wat na al hierdie plekke gegaan het, met mense gesels het en op ´n soortvan wetenskaplike manier die blouste lug bepaal het. Gaan kyk hier vir die volledige resultate, maar ek kan wel sê dat Kaapstad 5de was - nie sleg nie. Die foto regs van Valsbaai het ek geneem in Januarie, 2 dae voor ek hierheen gevlieg het. Ek nie glo ek is al langer as 6 maande hier nie!


Saturday, July 29, 2006

Sand tussen die tone... in die UK

En die son het selfs geskyn! Vanoggend was daar ´n skielike besluit om see te gaan soek. Ons lot klim toe in ´n vriendin se kar en kies koers na die naaste stuk see wat lekker klink. Of ten minste wat laasgenoemde vriendin ken en kan aanbeveel.

Heng, ek is bly oor sulke dae. Hierdie is Margate, UK. En ek aanvaar dat Margate in SA dalk vernoem is na hierdie plek. Blou lug, sand (nie klipperige gruis nie, sand), rustige see - alles wat mens soek in ´n dag by die strand. En alles wat ek gedink het in SA gaan agterbly nadat ek op die vliegtuig geklim het.




Hier kyk ek in die rigting van die dorpie self. Dis maar tipies Brits, behalwe dat daar meer roomys winkels is, en mense loop kaalvoet rond - nes ons gedoen het.






Margate sit heel aan die ooste kant van Brittanje - so 60 myl van ons huis af. Dis taamlik naby aan Dover, die Engelse Kanaal en dus ook Frankryk. Dit sit ook verby die monding van die Teems, en ek het die gevoel gekry dat die water dalk nie so 100% skoon is nie. Nie veel erger as die Strand oor Desember nie.




Die jong laaities het heeltyd van hierdie muur afgespring. Ek aanvaar dis een van die goed wat die locals maar doen om hulself te vermaak. Nog ´n weird ding wat ek nie in SA sal verwag om te sien nie, is ´n windplaas diep in die see. Die fotos het dit maar vrot gewys, want dit was so ver in, maar op die horison het daar dosyne groot windturbines gestaan wat gebruik word om krag op te wek. Sal graag eendag by so plek wil uithang en sien hoe hulle dit onderhou doer in die see.

Om te sê dat ons die see geniet het is om Londen ´n dorpie te noem... Hermine, Christelle en Sanet het selfs gaan swem omdat dit steeds so vrek warm is hier. Die sand tussen mens se tone laat jou gou onthou waar jou wortels is. En dat ek 6 maande gelede op die strand was. Dit was lekker om weer ´n stukkie SA te onthou.


Friday, July 21, 2006

Karre vir almal!

Waar om te begin...? Die British Motorshow was 'n uitsonderlike belewenis. Byna elke groot motorvervaardiger was daar, en sommer baie kleiner maatskappye waarvan ek nog net op TV gehoor het. Daar was 'n enorme BMW uitstalling buite waar mens in elke liewe BMW kon inklim en rond kyk nes jy wil. Selfs die M5 en nuwe M6 Coupe. Langs dit was die Mini Coopers waar mens weereens kon inklim en kyk en poze en wens... Daar was selfs 'n weird Space Invaders game waar jy in 'n regte kar sit en speel (my en Zodan se score was 540).

Maar die regte show - die goed wat elke laaitie wil sien, was binne. 'n Ander bonus was dat die gebou aircon gehad - baie nuttig aangesien Londen tans baie warm is. Daar was 2 groot sale, en soos die foto links wys - vrek baie mense. Een raming is dat daar 35,000 mense per dag hier sal deurgaan. Ek staan bo by die Honda stand en kyk oor die massas: In die verte is die Supercar Paddock...


Sommige karre was baie onverwags, soos hierdie Peugeot 907 concept. Dit lyk soos 'n McLaren SLR met 'n bietjie Nissan 350Z ingegooi. Ek het nuwe respek gekry vir Peugeot.






Daar was natuurlik ook weird skeppings. Hierdie Citroen C1 sal nooit weer dieselfde wees nie. Daar was ook goed soos 'n Hummer Limo en 'n Toyota Aygo wat 'n portable DJ station geword het. 'n Great ding van die show was dat mens in byna al die karre kon inklim, rond kyk en vrae vra.




Saab Aero X. Dis vrek mooi, en soos met Peugeot, het ek nuwe respek gekry vir Saab. Hierdie ding lyk soos 'n fighter jet en het 'n beligte groen console binne. Dit het 'n BioPower enjin en loop op bio-ethanol, wat beteken dit besoedel nie die lug nie. En steeds ontwikkel die enjin 400 bhp en 500 N.m. torque! Gaan speel gerus by Saab se website as jy tyd het en meer wil weet.



Aston Martin V8 Vantage. Nee, my lens is nie vuil nie - dis die kar wat so lyk: Hierdie Aston het 30,000 myl in 30 dae gery om die 30,000ste Aston wat ooit gebou is te vier. Dis bestuur deur 30 werknemers van Aston Martin self, en die projek het hier by die Motor Show ge-eindig op 18 Julie. Die agterste (geel) Aston, het vir 24h lank om die Nurburgring gery om dieselfde mylpaal te vier.


Toybota, van Top Gear faam. Hierdie bakkie is deur Jeremy Clarkson verander in 'n bootkar vir 'n episode van Top Gear. Al 3 die aanbieders se bootkarre was hier uitgestal. Die episode het heeltyd op 'n groot skerm gewys. Dit bly darem 'n funny kar program. Een van die voordele om hier in die UK te woon, is dat ek dit op TV kan kyk, en dat daar 'n kans is dat ek in die gehoor kan wees - gaan nie omgee nie!


Ek was doodmoeg na die motorshow. Ek dink mens moet 2 keer daar deur stap. Hopelik het ek volgende week nog kans om in te haal op alles wat ek gemis het. Buite was daar nog 'n hele 4x4 area waar die ouens hulle speelgoed getoets het. Sal dalk 'n draai gaan gooi.

O ja. Ek moet seker vertel van die Supercar Paddock. Om te verduidelik moet ek eers weer verwys na Top Gear: Hulle doen al vir 'n klompie seisoene toetse van die heel vinnigste en coolste karre op die planeet. Hulle toets altyd die goed op die baan en die fotografie is ongelooflik. Mens voel weer 5 as jy daar sit en kwyl oor die mooi masjiene. Hoe hulle klink en hoeveel hulle kos en dat jy dalk eendag self naby een sal kan wees. En dis die punt van die Supercar Paddock. Ek het binne 'n meter gestaan van 'n Ferrari Enzo, F40, F50, F430, Maranello 575, 612 Scaglietti, McLaren SLR, McLaren F1, Pigani Zonda, Spyker C8 en nog baie ander wat ek nog nooit eens van gehoor het nie. Ek het selfs binne 'n Morgan Aero 8 gesit, en die gawe tannie daar het ons genooi om na die fabriek te gaan.

Ja, dit was 'n great dag vol karre.


Sunday, July 16, 2006

Karre en Bote

Die naweek was weer vol son en ander stuff om af te neem. Ek het Saterdag vir Zodan gaan kuier en ons het opgeëindig by London City Airport, waar hulle besig was om die rekord op te stel vir die vinnigste kar in Londen. Ons kon maar min sien, want dit was nie oop vir die publiek nie. Ons moes tevrede wees om oor die dock te staar na die karre soos hulle langs die aanloopbaan afjaag.

Hier is die McLaren SLR tydens een die pogings. Die kar het op die ou end die rekord gevat teen 175 mph, of 280 kph. Die ander karre wat probeer het was ´n nuwe Ford GT40, een of ander Porsche (wie gee om) en ´n Aston Martin DB9. Die Aston het nie heeltemal so lekker geklink nie, en opgegee. Dis nogal jammer. Die GT40 klink ongelooflik. So ook die SLR. Dit was ´n lekker dag van son en karre. Watch this space, want Vrydag is dit London Motorshow :)

Sondag. Ek en Hermine het na kerk ´n rustige cruise op die rivier gevat oppad huis toe. Die rit was vanaf Millenium Pier tot by Greenwich - ongeveer 10km met die rivier langs. Mens begin by Big Ben en gaan dan verby klomp van die groot besienswaardighede met kommentaar van die gids aanboord. Die ouens het nogal snaakse stories vertel, soos hoe hulle £2 miljoen betaal het om die naam van die nuwe kantore van die burgemeester te bepaal. En na ´n jaar het hulle opgekom met: City Hall.

Die HMS Belfast vanaf die rivier, met die ander mense wat bo-op die boot gesit het, voor my. Ons boot het ´n onderste vlak waar mens kan sit en iets eet of drink, en ´n topless bokant waar jy kan uithang en stuff sien.






Ek en Mien naby Canary Wharf. Ons het een van die ander mense op die boot gevra om ons af te neem met Canary Wharf in die agtergrond... Ja, wel. Gebruik jou verbeelding dis regs van ons :)





The Painted Hall, Royal Naval College, Greenwich. Jy moet hierdie self gaan sien om te glo. Ek was al soveel keer in Greenwich, maar hierdie is die eerste keer dat ek hier verby stap. Dis ´n vreeslike mooi skildery teen die dak en mure. En toetaal verniet om te sien.


Soos ek sê: Vrydag is London Motorshow vir my, en ek sal fotos hier kom plak sodra ek kan. Groete tot dan.


Monday, July 10, 2006

Cambridge toe

Ek en Hermine was laas in Cambridge oor Nuwejaar, 2004/2005 - dit was ysig koud, maar steeds mooi. Ons het vandag die kans gehad om die plek in die somer te gaan besoek, aangesien ons toergids gespeel het vir ´n ou skoolpel van my.

Hier is King´s College vanaf die dorp se middelpunt. Links staan ´n mooi kerk en agter dit is die markplein met baie stalletjies waar ons die lekkerste kaalgat perskes gekoop het. Oral in die dorp ry mense op fietse rond. Ek het die gevoel gekry as jy ´n toeris is, mik hulle ekstra baie vir jou. Veral as jy agter jou kamera is. Ja, die plek het my na Stellenbosch laat verlang.



Cambridge se naam kom van ´n brug wat oor die rivier Cam gebou is (nie die een op die foto nie). Die colleges is langs die rivier gebou, en die beste manier om hulle te sien, is om te punt. Dis sulke lang, dun bote wat gestuur/aangedryf word deur ´n ou met ´n paal - baie soos gondolas. Ons het ´n toer gevat om al die sights in te neem. ´n Ander voordeel is dat ´n man se voete glad nie seer raak op hierdie manier. Om die waarheid te sê: Die punt is lekker gemaklik en mens lê-sit vir 45 minute tydens die toer... Bargain!

Riaan, ek en Hermine, met die stuurknaap (hehe) agter. Ek het die outjie se naam vergeet, maar hy is nog op skool en het ons baie funny stories vertel oor die rivier, die studente en die tradisies hier. Soos dat daar ´n sekere brug is waar jy ´n ander ou steeds wettiglik mag vermoor as jy ´n duel het met swaarde.




Die agterkant van St Johns College, toegegroei met ivy. As dit dalk bekend lyk - sekere dele van Harry Potter is hier verfilm.







Hierdie gebou het my oog gevang omdat dit so groen en wollerig gelyk het. Dis min dat mens jou mure moet snoei :)

Cambridge was baie lekker, en ek dink dis ´n moet-sien. Dit voel soos UCT se geboue met Stellenbosch se ligging, en baie meer geskiedenis agter elke hoek en draai. Nog een van die weird stories is dat daar jare gelede wilde ganse langs die rivier ingetrek het, op grasperke waar slegs fellows (dosente) mag kom. So eerder as om die ganse weg te jaag, het Cambridge alle ganse as fellows verklaar. Beteken dit dan as jy een eet is jy ´n kanibaal?


Friday, July 07, 2006

Back by some sort of demand

Iemand het genoem dat ek lanklaas hier geskryf het, toe kom maak ek net gou 'n draai. Dis laat hier, maar ek kan nie slaap nie - dis te warm. Ja, OK. Dis seker ver van enige regte hitte soos behoorlike Suid-Afrikaners dit ken, maar mens is steeds ongemaklik.

Ingeval iemand in SA omgee, dis tans Wereld Beker sokker. Al wat 'n Brit se huis en kar is opgemaak met Engelse vlae. Hulle het heel stupid gegaan. En toe verloor Engeland en nou is meeste van dit verby, maar as hulle net die stupid vlae wil afhaal, asb!

Hier is 'n tipiese huis in ons straat met vlae op die voordeur, mure en by die ruite uit. Kommin verby. Maar as jy nader kyk is daar ook 'n stukkie diep filosofie in hierdie foto. Links in die middel is 'n sign wat lees: "No Ball Games". So in Engeland mag jy sokker kyk, jy mag dit net nie speel nie. Dit verduidelik hoekom die fools verloor het.

Hulle is darem eerlik. Dalk sal Bafana Bafoona eendag ook daai punt bereik.


Monday, June 19, 2006

Aarbeie en Tennis seisoen

Nog ´n naweek, nog fotos. Die weer bly baie mooi hier, en ons geniet die sonnetjie terwyl ons kan. Hermine en ek was Saterdag middag by Regent´s Park. Ek was mos laas in die winter daar, en het belowe om terug te gaan as die rose blom.

So ek het. Die roostuin is rerig mooi. En dit ruik so lekker. Hierdie foto is geneem vanuit The Queens Garden, en wys maar net ´n klein stukkie van die blomme. Dit was lekker warm en ons het so rustig deur die tuin gedwaal.





Hermine en ek staan op ´n houtbruggie voor ´n watervalletjie waar baie eende sit en kwaak. Oral is mense wat onder ´n boom sit of self die park verken. Klein kindertjies hardloop rond en hier en daar speel dapper ouens sokker. Dis mos nou World Cup hier, so die hele land is sokker-simple.




Hierdie eekhoring het daar rondgeloop asof die park syne is. Ek moet beklemtoon dat hy geloop het, nie gehop soos gewone eekhorings nie. Dit was nogal creepy om hom te sien stalk in ons rigting. Hy het regtig na ons toe gestap en kom kyk of Hermine kos het. Ek het ´n berry smoothie by die huis gemaak en ons het lekker onder die boom sit en ontspan. Al probleem is dat mens altyd nog soek... Daar is nie ´n bottel groot genoeg waarin mens al jou smoothie kan sit nie.

Sondag. Yep, ek staan by Wimbledon. ´n Pel van SA werk hier aan die stelsels wat telling hou, so ek het ´n toer gekry van die plek. Hier staan ek op die grasperk agter No. 1 Court waar die mense altyd sit en op die TV skerm kyk. Ek is nogal lief om tennis te kyk, veral Wimbledon. Hierdie was rerig spesiaal vir my.



Dis die plek waar die VIPs uithang en waar die spelers eet, ens. Wens ek kon daar ook in. Ek was wel by die plek waar die umpires uithang en waar hulle besluit wie teen wie speel.






Centre Court soos min mense hom sien. Mooi groen en reg vir die tennis wat oor ´n week of 2 begin. As mens eers verby sekutiteit is kan jy enige plek insneak. Ek het ook gesien hoe die staf oefen om die seile op die baan te sit. Die hele plek maak nog reg en oral werk mense. Pers petunias staan die hele plek vol en die plek lyk sommer net smart - glad nie soos ek dit vroeër hierdie jaar gesien het nie.


Ek hoop om dalk bietjie van die tennis ook by Wimbledon te gaan kyk. Ek sal natuurlik laat weet as dit gebeur.


Monday, June 12, 2006

Loud, Louder... Formula 1

Ek moes 3:30 AM opstaan, maar het al die pad gesmile. Met ´n ongelooflik stroke of luck en baie genade van bo het ´n pel vir my ´n kaartjie na die 2006 Silverstone Grand Prix gekry. Ek kon skaars slaap. Ek sit en smile nogsteeds...

Dit neem so net onder 1h30 per motor vanaf Stratford en ons was so 05:45 op die baan. Daar was reeds ´n klomp mense. Ons het gaan sit by Copse, die eerste draai na die Start/Finish en reg op die pit exit. Die foto regs is net na 6 AM geneem, toe daar nog min mense was. Later het hulle ingestroom en die hele plek was stampvol.



Daar is natuurlik ook baie ander goed om te sien. Verskeie kostalletjies verkoop alles wat jou maag voor kan vra. Daar is ook baie bier plekke, ens. Regs is McLaren se 2006 kar. Al is ek nie ´n fan van die span nie, is dit darem ´n mooi kar! Mens kan lekker naby kom aan die kar. Toyota se stand was netso cool, maar my Ferrari mense was maar teleurstellend. Jy kon nie naby die kar kom nie. Miskien gaan dit oor watse span by watse baan gebaseer is, maar ek sou meer van my gunsteling tipe rooi wou sien.

Mens sien darem nie net die Formula 1 resies nie. Daar was ook ´n Porsche resies en GP2 karre wat gejaag het, so die hele dag was vol karre wat verby dreun. Die Britse Red Arrows het ons ook kom vermaak. Ek like mos my vliegtuie ook, so hierdie was ´n nice treat. Hulle het laag oor ons sitplek gevlieg en die geraas was ongelooflik!



Reg rondom die baan is daar borde wat jou wys waar jy is en hoe die baan lyk, ens. Die plek is goed georganiseer. Ons het vroeg reg rondom die baan gestap. Ek reken die uitstappie was so 5.5km, aangesien die baan self 5.1 km lank is, en mens ver buite die baan stap. Die plek is groot. En helikopters kom laai VIPs af die hele tyd. Baie mense het duidelik ook voor sonop daar kom uitkamp, want reg rondom die plek was daar ouens wat in hulle stoele sit en slaap het met ´n hele leef-area om hulle.

Hierdie is een van die Grand Stands, met die TV kameras wat agter dit uitsteek. Die kaartjies vir hierdie sitplekke is baie duur, en ek wonder of mens veel meer sien. Jy sit dalk net minder in die son. En ja: Dit was vrek warm. Gelukkig was ek goed voorberei en het darem nie gebrand of iets nie.




Go Schumi!!!! Dis moeilik om ´n goeie foto van die karre te kry, aangesien hulle verby ons kom teen 225 kph. Die resies self was redelik onopwindend van my sitplek af. Alonso het eerste begin en daar klaargemaak. Schumacher het verby Kimi gegaan tydens ´n pitstop om 2de klaar te maak. Omdat ons op die pit exit gesit het, het ons daai stukkie aksie gesien, wat great was. Maar ek dink nie jy gaan GP toe om dit te sien nie. Dit kan jy beter by die huis doen. Jy kom hierheen om dit te voel en te ruik. EN TE HOOR!

Dit was die hardste wat ek nog enige masjien hoor raas het. Dit is ´n onbeskryflike klank wat mens se tande in jou kop laat rattle. Ek het die goeie raad gekry om oorpluisies te kry vir die race en Oh Boy... het mens dit nodig. As jy dit in het, is dit steeds loud, maar ten minste kan jy jouself ook hoor dink. Dis ongelooflik. Elke fan moet dit self gaan hoor om te verstaan. Nog ´n ding wat my oordromme aangeval het is die gear-change van hierdie goed. Dit klink regtig soos ´n geweerskoot. Ek het verwag dat dit mooi sag en glad sou wees, maar was baie hard en duidelik verkeerd.

Baie dankie Michael vir saamnooi, en Daniel vir die bestuur soontoe en terug.

As iemand dalk nog fotos soek, ek het meer was 300 fotos geneem en ook baie videos. Laat weet en ek stuur jou ´n paar beter resolusie fotos.