Monday, March 27, 2006

Olimpiese Koors

Laat my net gou toe om hierdie stukkie sinnelose informasie te deel. Stratford, die voorstad waar ek woon, is die plek waar die 2012 Olimpiese spele gehou gaan word. Hier word groot stadiums, behuising en vervoer infrastruktuur beplan. So het die owerhede dit goed gedink om ´n horlosie voor die stasie op te rig wat aftel hoe lank nog voor die Spele begin.

Die foto links wys die stasie met die horlosie, en onder is die digitale bord wat score hou van hoe lank nog voor die groot datum. Ek weet dat op konstruksie skale 6 jaar eintlik maar min is. En vir dié wat Wembley stadium se vordering volg, sal weet vertraagings kan nogal duur wees.

Maar vir die man op straat, spesifiek die tipe wat gereeld by die stasie is, raak die hele besigheid maar ´n pyn.

Komaan, ouens, nog net 2264 dae voor die spele hier is... Vir my is dit regtig ´n groot grap. In Stratford sien ek min vordering wat bou werke betref. Ek hoop vir Londen se part dat iewers wel gewerk word hieraan, anders gaan die hele wêreld saam met my lag. Ek besef ook nou dat SA heel moontlik nie reg is vir ´n Olimpiese Spele nie. Nog nie nou nie, ten minste.

OK, OK. Ek is klaar gemoan. Jy kan maar weer verder die web surf :)



Thursday, March 23, 2006

Perde Ham is yum-yum

Ek het vandag buite Londen gaan verken. ´n Uur suid van Londen is ´n dorpie genaamd Horsham. Dis werklik ´n oulike klein plekkie - baie stil en landelik.

Mens hoef nie ver van die stasie af te stap voordat jy hierdie gesig kry nie. Hier ry nie regtig karre rond nie, selfs terwyl ek tydens etensuur rondestap het. Die plekkie lyk nie oud nie, maar het steeds karakter en laat mens net soveel rustiger voel as Londen.




Hierdie kerk staan op die punt van Causeway. Dis een van die oudste strate in Horsham en so rustig soos wat Londen gejaagd is.






Agter die kerk is ´n klein parkie met ´n stroompie wat daardeur vloei. Daar het ´n robin byna op my voet kom sit en my baie herinner aan SA se kwikstertjies. Ek wou sommer net daar bly en weier om weer stad toe te gaan.





Horsham Park. ´n Pragtige groen stuk oopte presies in die middel van die dorp. Agter my is die kleuterskool en oral is ma´s wat hulle kinders kom haal het na skool. Die hele park was vol klein mensies wat wat raas en speel. Links van my is een van die grootste gyms wat ek nog gesien het. Dit het selfs ´n enorme, verhitte, binneshuise swembad.



Saturday, March 18, 2006

Goed om te doen as jy bored is

Kyk, ek weet mense noem gereeld dat dit koud is in die UK. Ek verstaan ook dat as jy nou in SA is, dit dalk moeilik is om te begryp hoekom die mense hierso daaroor kla. Anyway, laat ek maar my deel doen, die stroom join en sê: Dis koud!

Windchill. Daai is die probleem. Dit is byvoorbeeld nou 5C, maar daar waai ´n lekker vris windjie, so die ware temperatuur is nader aan nul. Gister was dit -2C. En natuurlik was ek buite... Het weer vir Hermine gaan kuier, en oppad soontoe het ek sommer by Covent Garden gestop en toe Travalgar Square toe gestap. Daai fotos is boring, maar ek het dit geniet om so deur die stad te wandel, ten spyte van die koue.

Later het ek Waterloo stasie toe gegaan om te wag vir die trein Hampton Court toe. Was toe te vroeg daar en stap toe sommer Teems toe om my koffie te geniet. Vrek koud. Ongelooflik koud. Maar op ´n manier kry ek toe ´n sitplek uit die wind uit, en skielik sit ek lekker.

Ek het hierdie foto geneem van my bankie af. Waterloo stasie se walkway eindig by die Eye. As jy ooit jouself in hierdie stad bevind, dink ek dis nogal ´n goeie manier om dit eerste te sien. Vat die tube van die lughawe tot by Waterloo, volg die bordjies en hoop die weer is oraait :)




Hierdie advertensie het my getickle. Ingeval jy wonder, Oyster is die kaart wat jy op die tubes/busse mee ry. Jy kan geld oplaai en betaal per rit, of bv. ´n maandelikse kaartjie daarop laai. Ek dink dis ´n goeie manier vir die owerhede om uit te werk wie gaan waar, en dan uit te werk waar om meer treine te laat loop, ens. As jy natuurlik hou van conspiracy theories, kan jy ook geneig wees om te dink Tony Blair hou jou so dop.


Canary Wharf. Alweer. Ek is jammer. Ek het vir Wilhelm gaan kry vir koffie by een van die 3 Starbucks wat in die winkelsentrums rondom die stasie is. Hierdie foto is geneem van die bogrondse stasie toe ek oppad huistoe is. Dit was seker so 8pm.




Monday, March 13, 2006

Koue, koue Monument

Vir verskeie onverklaarbare redes was ek vandag by Monument (jy spreek hom in Engels uit...). Dis ´n monument wat gebou is om Londen se groot brand tydens 1666 te herdenk. Die toring is 202 voet hoog, en mens klim aan die binnekant met 331 trappies op.








Hier staan ek basies bo en kyk weer af in die toring. Ja, dis baie trappies, maar ek dink meeste onfiks tipes sal dit kan maak.







Die wêreld se bekendste voet... Die kamera hang by die reelings uit en wys af na die voetstuk van die monument. Die mense lyk nogal klein van hier bo af.






´n Tipiese gesig van sentraal-Londen. Mens vergeet soms dat hierdie plek al ´n stad is vanaf die 640´s. Dis hoekom mens so baie ou geboue tussen al die nuwes sien - die stad is eenvoudig eeue en eeue oud.





Hier is ´n stukkie van die Teems met Tower Bridge. Ek staan toevallig presies oorkant die rivier van Andries se werk (vorige fotos hier). Ek het hom probeer bel om te kyk of hy my kan sien van daar af, maar die konneksie was bietjie swak.





Monday, March 06, 2006

Teems toer

Ek het sommer gaan rondstap langs die Teems en die toeris-ding gedoen. Links op die foto is St Pauls Cathedral en meer reg is die Gerkin.






´n Poskaart foto. Die London Eye is werklik ´n groot stuk yster. Ek het by die anker toue gaan staan en mens voel klein!







Het gedink hierdie is funny. Elke Brit kies ´n bankie oor lunchtyd. Dis ´n oulik park parallel met die Teems. Daar´s baie standbeelde en gedenktekens. Meestal vriende of kennisse van die konings van die vorige eeue, ens.





Iewers in Hyde Park. Eintlik Kensington Park, die weste van Hyde Park. Dis HUGE. Die winterbome is oral, netso eekhorings. Hierdie eekhorings sal Stellenbosch eekhorings se low-tackle en al hulle kos afvat sonder om jammer te sê.





Peter Pan se standbeeld. Baie voetslaan om tot hier te kom. Soek die standbeeld en wen ´n Datsun.







Park varke ens.

Ja, dis steeds lekker om werkloos... er... ek bedoel... ´n Toeris te wees. Ek en Christelle het Vrydag die pad gevat Greenwich park toe vir vars lug en sommer net ´n kans om uit te kom.
Dom en dommer. Ons staan aan die onderpunt van die park nadat ons sommer deur Greenwich village gestap het.







Die uitsig vanaf die Royal Observatory. Die tydlyn is so 15m aand my linkerkant. Die groot geboue in die verte is Canary Wharf, die duurste kantoor ruimte in die UK. Agter my is ´n stalletjie wat hotdogs verkoop. Of ten minste, ´n Britse hotdog, wat beteken jy kry ´n vark worsie daarin. Die naam van myne was ´n ¨Park Porker ¨. Christelle het dit park vark gedoop. Was yummy, behalwe dat die English Mustard nogal hot was.


Heel aan die verste (en boonste punt) van die park - en dis ´n groot park - is The Flower Garden. Ironies genoeg is daar rerig baie voëls daar. Eende, ganse, kraaie, duiwe, bleskoppe en eekhorings. Laasgenoemde het nie vlerke nie, maar is netso moeilik soos ganse. As jy stupid genoeg is om ´n Londen eekhoring ¨cute¨ te noem kan jy moontlik ´n toon verloor.



Christelle geniet die vars lug...








Die uitsig oppad huistoe. Ons is nou aan die ooste kant van die Teems, met die stad meer links. Ingeval jy wonder, dis vrek koud wanneer die son begin sak. Ons het so 3o minute vroeër sneeu gehad.