Friday, April 28, 2006

Soos Jonkershoek, soortvan

Nog ´n rondloop dag, en ek het alweer die groen gaan soek. Diekeer was ek heel Noord in Londen, by ´n plek genaamd Cockfosters (moenie lag nie). Daar is ´n groot stuk park met ´n klompie staproetes, ens. Dis die tipe plek wat nie ´n website het nie, die locals weet daarvan, maar die res van die wêreld het nie ´n clue nie.



Eendag, as hierdie stomp groot is, gaan hy iets van homself maak... Maar op hierdie stadium het ek geen idee wat hy is nie.









Ek het in die paadjie afgestap en toe kom die eendjies oorgevlieg. Die plek is tussen plaasland en daar is ook redelik waterlewe.








Hierdie eendjies was net die weirdste. Hulle lyk soos plastiek.










Nog blomme! En links is die rede vir die weird stomp. In die middel park, tussen die bome is ´n Universiteit. Dis ´n dans en kuns plek, so daar is nogal weird studente wat daar rondhang. Aan die ander kant, hulle lyk maar nes die ander Britse kinders.

Ek dink hierdie sal ´n great plek wees om te swot.





Monday, April 24, 2006

Soveel knoppies, so min tyd

Vandag se uitstappie was na The Science Museum. Dis ´n museum wat fokus op die ontwikkelling van tegnologie en baie meer fokus op interaksie as ´n geskiedenis les. Dis moeilik om die plek op film vas te lê. Dis regtig die tipe plek wat mens self moet gaan besoek. Dit vat ´n hele dag om daar deur te kom. Soos ek nou hier sit is my kop seer en my voete pyn. Dis harde werk om niks te doen nie ;)

Hierdie is een van die mooiste uitsigte binne die gebou, en gee ´n baie goeie idee van die plek. Daar is net hordes goed om te sien. Nie alles sal almal interesseer nie, maar almal sal iets kry wat ´n WOW nodig het op dit te beskryf.





Daar is verskeie deursnitte van voorwerpe om te wys hoe hulle binne werk. Hierdie een is van ´n Mini. Daar was ook ´n spoel toilet, maar ek het nie ´n foto geneem nie, want daar was ook sekere voorwerpe in om die vloei te wys... Ja. Hierdie wetenskap mense is soms bietjie af.




WOW. Die lugvaart deel het my ge-tickle. In die foto is ´n sweeftuig op die voorgrond, onder my staan ´n private jet en die ovaal vorm agter is ´n deursnit van ´n Boeing 747. Agter my is ook verskeie volskaal replikas van goed soos ´n Tiger Moth en die Wright Flyer.




Ek het nog baie fotos geneem, maar ek dink dit sal die plek spoil vir mense wat nog wil gaan. Dis regtig ´n hands-on ervaring. Jy moet soontoe gaan en jouself moeg loop. Jy moet weer daar rondhol en soos ´n laaitie voel. Jy moet die toilet uitstalling sien om te glo.


Monday, April 17, 2006

Retreat in Styl

Ons het die naweek weggebreek en na die kerkkamp in ´n plekkie genaamd Battle gegaan. Die dorpie kry sy naam vanaf The Battle of Hastings, wat plaasgevind het in 1066. Blykbaar het die Britte maar daai een bietjie verloor, maar hierdie is nie ´n geskiedenis les nie. Ons was by Asburnham Place, wat ´n Christen konferensie sentrum is. Die plek is eenvoudig asemrowend. Dis was eens ´n proper English Manor House en die gronde se geskiendenis is langer as 800 jaar. Dit voel soos iets uit ´n Jane Austin boek.

Hierdie is my poging om die hoofgebou vas te lê. Die windhond standbeelde is oral in die voortuin - ek dink hulle het op ´n kol Lord Ashburnham wakker geblaf en toe kry hy hulle terug. Daar is verskeie groot sale binne, die grootste het ons hele kamp van 160 mense gehou. Die ander vertrekke is almal netso enorm en daar is ´n hele paar Klaviere of Clavinovas. Hermine het ons ´n paar keer daar vermaak.


Ek staan reg voor die hoofingang. Die tuin is perfek uitgelê en die bruggie en meer in die agtergrond maak die plek prentjie mooi. Daar is ganse daar onder wat lekker raas elke keer as iemand durf verby stap. Ek wil nie al my fotos hier plak nie, maar ek het omtrent 250 geneem. Die plek het net soveel karakter dat jy skoon snap-happy gaan!



Ongeveer die uitsig vanaf Hermine en Christelle se kamer. Daar het gereeld skape gewei en soggens vroeg hoor mens hulle in die verte blêr. Gepraat van kamers: Dit slaapplekke is baie goed toegerus. Elke kamer het hulle eie wasbak, netjiese duvets en kaste om jou goed te pak. My enkel kamer het ook ´n lessenaar gehad. Elke seksie het hulle eie ketel, koffie, tee, suiker en melk sodat mens elke aan kan kuier.


Saterdag was dit reënerig, maar Sondag was die weer net reg vir stap. Almal het ´n koers gekies, en selfs al was ons so baie daar, het jy nooit regtig ander mense gesien nie. Die groot gronde het toegelaat dat almal hulle eie ding kan doen. En die modder het toegelaat dat almal ´n stukkie countryside kon huis toe vat. Ek en Hermine het na ´n lang en soggy gesoek hierdie plekkie opgespoor. Dis The Ladyspring Grotto. Ek het geen idee wat die plek se geskiedenis is nie, maar dit het soos iets uit ´n King Arthur fliek gevoel.

Die yokels... Van links na regs is Michael, Noelle, Hermine, Bloody Stupid Johnson, Christelle en Lizelle. Die kamp het regtig alle ouderdomme gehad. Ek was verbaas om gesinne te ontmoet wat al 10 jaar hier woon en kinders grootmaak hier. Daar was klomp mense sou oud soos my ouers, jong getroudes met klein kindertjies en ook tieners. Genoeg van elke tipe sodat daar groepies kon vorm en almal iemand kon kry om mee uit te hang. Etes was nogal lekker want elke tafel hou so 10 mense en ons het so gereeld nuwe mense leer ken. Dit was baie lekker om te hoor wie wat hier doen, en ook hoe hulle almal in die UK beland het. Die ander interessante dingw as dat die mense wat al langer as 2 jaar hier is, byna almal buite Londen woon. Hulle kies die county life en dit lyk my of hulle floreer. As jy in SA dink aan Uk toe kom is dit outomaties Londen, maar meer en meer kry ek die idee dat daar ´n hengse klomp SA mense buite die stad woon.

Die kamp was ´n perfekte wegkomkans en ek sal dit maklik weer doen. As jy die tipe is wat belangstel in sendingwerk oorweeg gerus om Ashburnham te kontak. Hulle het 80 mense van reg oor die wêreld wat daar werk en dit behoort ´n ongelooflik ervaring te wees.


Monday, April 10, 2006

Wimbledon is ´n rumour

Soms moet mens ook seker ´n slegte ervaring hê, meestal sodat mens die goeie ervarings meer kan waardeer. Ek belowe dis die diepste wat ek vandag sal wees :) Ek het met baie hoop Wimbledon toe gegaan om die tennis bane en omgewing af te neem voordat die seisoen begin.

Dit het egter glad nie gebeur nie. Na ´n lang gestap en baie wonder het ek besef dat ek verdwaal het. Het darem weer die pad gevind en op die ou end dit gemaak tot by die plek waar die wêreld bekende Wimbledon tennis toernooi elke jaar plaasvind. Maar natuurlik werk hulle aan absoluut alles daar en mens kan nie ingaan nie. En ek weier om enige fotos daarvan te wys. Hopelik sal ek later in die jaar beter vaar.

Oppad terug stasie toe het ek deur die park gestap en afgekom op 'n klompie skoolkinders wat leer om te seil. Dit was 'n groot gemors van die water se rand af, maar ek dink meeste van ons sou graag die geleentheid wou hê om te leer. Ek kry gereeld die idee dat daar soveel meer geleenthede hier is vir kinders wie se ouers wakker is.



Die gewone draai in Hampton Court. Die keer het ons weier geloop en afgekom op 'n trop bokke wat sommer naby die huise wei. Hulle was redelik min gepla deur ons en het eerder die lekker sonnetjie geniet.





Verder aan was daar 'n bul (stag in engels) wat nogal windgat was en daar rondgestap het of hy die plek besit. Hermine en ek het dit interessant gevind dat die hond min gepla was met die bok. Hulle het mekaar so vinnig geruik en toe stap elkeen rustig aan.




Hermine kyk vir die bleshoender wat so rustig sit en aan die gras pick. Hy is so mak dat jy amper op hom kan trap voor hy skuif. En dan ook net 2 tree, dan gaan sit hy weer en gaan aan. Dis iets wat ek al baie kere opgelet het. Die voels is baie mak hier en gereeld as jy naby 'n dam of rivier stap kry jy 'n stalker of 2 wat kom kos bedel. Maar eendjies is darem net oulik.



Hierdie was net 'n absolute sprokies prentjie. Dis weereens die tuine by die paleis waar die affodille so mooi groei. Die foto is seker so 17:30 geneem. Die UK het mos daylight savings time, so ons het 'n week of 2 gelede 'n uur verloor. Dis nou tot later lig en die tydverskil tussen hier en SA is nou net 'n uur. Dit het absoluut niks met die foto uit te waai nie. Gaan besoek die tuine self om te verstaan hoekom ek niks het om te sê nie.


Monday, April 03, 2006

Fanus Groenewald, Professionele Toeris

As ek nie ´n werk kry hier nie, gaan ek ten minste nie kan kla dat ek nie stuff gesien het nie. Hermine was vandag in die stad vir ´n kursus, wat my die kans gegee het om te gaan fotos neem terwyl ek vir haar gewag het. Ek kla glad nie!


St Pauls Cathedral. Dis ongelooflik groot, baie oud en mens wens dat die mure wel kon praat. Dis so populêr dat selfs terwyl hulle werk daaraan, word die buitelyne geteken op die seile wat die werk bedek.





Ek staan op Paternoster Square. Op my regterhand toring St Pauls. Voor my is ´n Starbucks (en ´n onooglike brons standbeeld) en links is die London Stock Exchange. As jy hoor van die Londen markte en die FTSE, hierdie is die plek waar dit alles gebeur.




The British Museum. Ek was besig om die vorige aand te soek vir plekke rondom St Pauls om te gaan besoek, toe sien Andries hierdie foto by Google. Na ´n bietjie gesoek vind ons toe uit dis die museum. Die blou dak is ´n enorme binne-hof wat toegebou is met ´n glasdak. En net as jy dink Londen is ´n groot plek, dan loop jy ´n ou kennis raak. Ek was skoon uit die veld geslaan om ´n ou skoolpel te kry in die museum.

Regent´s Park. Hierdie is die ander groot park in London, naas Greenwich en Hyde Park. Ek weet regtig nie hoe om die plek te beskryf nie. Daar is die gewone hoeveelheid watervoëls, oop grasperke en bankies. Maar ook ander voëls. Daar is ´n besigheids kollege in die park, asook versteekte huise. Queen Mary se roostuin is daar, en dit beloof om ongelooflik te wees in Somer. Daar is ´n opelug teater waar oa Shakespeare (gaan) wys. Oppad soontoe stap mens verby Madame Tussaud, Sherlock Holmes se stadbeeld is daar rond en ook die Britse planetarium.

Hampton Court. Ek en Hermine het langs die rivier gaan stap voor ete en afgekom op hierdie skoene. Ek wil iets sê in die lyn van gone fishing, maar ek kan aan geen scenario dink waar jy jou skoene moet uittrek hier nie. Dis was een van daai onverklaarbare, random goed wat soms gebeur. Tekkies langs die water sonder hul base in sig. Wie weet hoekom...



Greenwich, deel 2

Saterdag was ´n mooi dag en ons het sommer besluit om weer Greenwich Park toe te gaan vir ´n rukkie.

Dit is darem ´n mooi plek, en lekker naby aan ons. Dis ook regtig groot en net die ding as mens bietjie gedruk voel in die stad. Daar was baie mense, kinders en honde in die park Saterdag, en steeds was dit rustig.





Ek het ook ´n redelike treat gekry, want daar was ´n Harrier voor die Maritime Museum. Die eerste ding wat my opgeval het is dat hy nogal klein lyk. So klompie jare gelede was ek by ´n lugskou en het ´n F-16 gesien. Die Harrier se vlerkspan is naby aan die helfte van die F-16. Ek onthou nog goed toe ek daai F-16 gesien het. Die eerste indruk was: Dis Huge! Hierdie Harrier lyk soveel kleiner. Dis daarom soveel meer indrukwekkend dat hy vertikaal kan land.

Die regte rede dat ons park toe is: Kos! Hierdie stalletjie is by die Royal Observatory op die heuwel, en verkoop die Park Porker. Dis ´n hotdog, maar met ´n vark worsie in en dit smaak nogal lekker. As jy die engelse mostert oorleef is jy definitief deel van die in-crowd.





Saturday, April 01, 2006

Queen wie?

Vrydag was weer rondloop dag - en die weer raak nou al baie beter om buite te wees. Ek het soos gewoonlik die tube kaart gevat en ´n deel gekies, my kamera gevat en op die spoor geval. Die stasie se naam was Green Park, want dit het interessant geklink.

As jy onder die grond uitkom is die park ook sommer net daar. Die affodille blom nou éérs! Die hele plek is oortrek met geel en wit. Dit lyk regtig na lente hier.






Ek stap toe verder deur die park en kom op hierdie gesig af. Hordes mense (in die middel van ´n werksdag) en ´n lelike gebou agter hulle. Die polisie ry daar rond en alles gaan net mal. Duidelik wag die mense vir iets. Turns out, hierdie is Buckingham Palace en die mense wag vir The Changeing of the Guards...



Nadat ek deur die honderde mense geveg het, en die laatse van die wolkoppe verby is, het ek verder gestap. Daar kom ´n blaas orkes, ´n klomp wagte op perde en die laaste van Buckingham se wagte verby gestap. Ek dink dit gebeur elke dag. Soms is die Britte maar weird.




Verder aan is Piccadilli Circus. Hierdie is een van my gunsteling dele in die stad (en een wat ek darem herken as ek hom sien). Daar is enorme digitale advertensie borde wat dag en dag speel. Regs van die advertensie is ´n paar teaters. Dis oop ´n baie besige kruising en karre en busse ry die hele tyd verby. Vir my is hierdie plek ´n goeie opsomming van London. Dis besig, dis high-tech, maar ook gekultiveerd met ´n lang geskiedenis.


´n Karretjie wat my oog gevang in Hampton Court. Die ding lyk soos ´n slak. En toe Hermine om stap op die naam te gaan kyk staan daar S-Cargo... (slak in frans is escargot).